Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

Hoop met tye van swaarkry

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Wiesie Kotzé – Ek het die naweek wat verby is op my Facebookblad gaan rondkrap.

Die spoor van inspirasie op my blad vir allerhande skrywes het hoog tot Februarie 2024 geloop. In Maart 2024 het dit doodgeloop weens ’n ramp wat ons familie getref het.

Die stilte het tot nou toe gehou. 

Prediker 7 vers 14 in die Nuwe Lewende Vertaling sê: “Geniet die dag van voorspoed, maar wanneer teenspoed kom, onthou God gee die een sowel as die ander, sodat die mens nie weet wat met hom sal gebeur nie.”

Ek kan van die volgende getuig as eindproduk van ons swaarkry: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: Swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop en díe hoop beskaam nie.” – Romeine 5:3-5 (AFR 83)

My oudfluitdosent op universiteit het altyd daarvan gepraat dat die hoop nie beskaam nie – veral wanneer ek weer eens nie vir my musiekles geoefen het nie. . .

Maar ja, selfs in tye van swaarkry beskaam die hoop nie. Die hoop wat gekweek is uit egtheid van geloof. Hoop kan slegs wortel skiet in tye van swaarkry wanneer ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. Want alles wat ons sintuie vir ons vertel tydens swaarkry, is dinge wat ’n mens redes sal gee om nie te glo nie. 

Wat jy beleef, is trauma en stres en moeilike dinge wat ’n mens se brein nie regtig op daardie oomblik kan of wil verwerk nie. 

’n Mens se sintuie is oorweldig en as ’n mens aan hulle ’n spreekbeurt gee, dan sal hulle sê daar is nie ’n kans vir hoop onder die omstandighede nie.  

Daarom is geloof so ’n kragtige anker in tye van storms. Omdat ’n mens hoop daaruit kan put, juis omdat ’n mens al vantevore in jou lewe gesien het hoe die Here getrou is en sy beloftes nakom.

Net soos my fluitdosent week na week amper wanhopig gehoop het dat ek sal begin oefen, so mag ons in tye van swaarkry vashou aan dit wat op daardie tydstip amper onmoontlik lyk.

Want díe tipe hoop beskaam werklik nie. Mag jy hierdie week iets in jou geloof vind om aan vas te hou, selfs al is hoop skaars. Met liefde, van Wiesie.


– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.



Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer