Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Hoop beskaam nie

Ds. Erik van Zyl het verlede Sondag in die kerk verslag gedoen oor sy Damaraland-uitreik na die Himba-mense in die Opuwo-omgewing.

Hy vertel van die een vrou vir wie die Here altyd sê wanneer ds. Erik en die uitreikspan na die Himbas op pad is. Hierdie vrou sit nie op haar slimfoon en ontvang ’n WhatsApp van die dominee of van God dat hy op pad is nie. Ek glo nie eens daar is selfoonopvangs waar sy is nie. Die Here sê vir haar hulle is op pad.

Blykbaar het sy hierdie keer die Here gevra van watter kant af die dominee sou kom (omdat daar twee paaie is) en die Here het haar gesê. Ds. Erik vertel dat hulle soms laat in die nag daar aankom en daardie nag het ’n voertuig in die donker na die Himba-nedersetting aangery gekom.

Haar familie en vriende het opgewonde begin raak dat dit die dominee moet wees, maar sy keer hulle toe en sê: “Nee, dis nie die dominee nie, die dominee kom van die ander kant af.” En sy was ook reg.

Ds. Erik het haar gevra – hoe dit werk dat die Here met haar praat – haar antwoord was ’n mens moet baie, baie stil raak as jy wil hoor wat die Here vir jou sê.

Ek lees vanoggend met ’n glimlag van ’n “moedelose” gesprek tussen Abram en die Here. Net in die vorige hoofstuk het Melgisedek vir Abram geseën met ’n oorwinning oor sy vyande met wie hy in oorlog was.

In Genesis 15 vers 1 tot 6 het God in ’n visioen aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.”

Maar Abram het geantwoord: “Oppermagtige Here, wat beteken al u seëninge as ek nie eers ’n seun het nie? Daarom sal Eliëser van Damaskus my erfgenaam word. U het my geen kinders gegee nie. Een van my slawe sal dus alles erf wat ek besit.”

Toe sê die Here vir hom: “Nee, hy sal nie jou erfgenaam word nie. Jy sal ’n seun van jou eie hê wat al die besittings wat Ek jou gee, sal erf.”

Daarop neem die Here Abram buite toe en sê: “Kyk op na die naghemel en tel die sterre. Kan jy hulle tel? Net so baie sal jou nageslag wees!” Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken.

Die rede waarom ek geglimlag het, was omdat my oog verder geloer het oor die hoofopskrifte en daar staan geskryf – Die geboorte van Ismael en Abram word Abraham – wat “die voorvader van baie nasies” beteken. As Eliëser van Damaskus Abram se erfgenaam geword het dan was Jesus nie vandag in die prentjie nie.

Ons nader die geboortedatum van ons dogtertjie Mari en dit laat my weer onthou van daardie tye. Ek spring na ’n tyd waar ek en my man ’n oomblik geneem het om van die hospitaal af weg te ry terwyl ons dogtertjie in die hospitaal sterwend gelê het. Ek het ’n boodskap ontvang oor die twee tweedehandse spaarbussies (een vir ’n seuntjie en een vir ’n dogtertjie) waarvoor ek ’n tydjie terug – voor die tragedie met ons dogtertjie – my hand voor opgesteek het.

En in daardie oomblik sê ek vir die Here: “Ek weet nie of dit beteken ons kind gaan oukei wees nie, Here, maar ek neem graag hierdie teken van hoop.”

My man het sy kop vir my geskud, maar was in daardie stadium agter die stuur en hy het ook al geleer dat sy vrou soms vreemde en onverstaanbare dinge aanvang. Ons het daardie twee spaarbussies met trane in ons harte gaan haal. En vandag is ek weer swanger met ’n dogtertjie.

Ek kan nie verklaar hoekom sommige mense stories het waar hulle skrif ontvang het en dit het nie so uitgedraai nie. Al wat ek in my lewe weet, is dat as ons baie stil word, en met groot oë soos ’n kind dophou waarmee die Here rondom ons besig is – dat ons vandag steeds van Hom sal hoor en hy met ons praat.

Volgende keer deel ek nog ’n storie oor die meisiekind wat kom. Liefde, van Wiesie

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer