Errol Hurter
Errol Hurter

Hoofman wis dalk beter

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Mense eet snaakse goed. Daarmee word nou nie verwys na die Israeliete wat sprinkane en manna in die woestyn geëet het nie of goed wat in tye van hongersnood gaargemaak en geëet word nie, maar goed wat mense in die alledaagse lewe of tydens spesiale geleenthede opdis.

Franse paddaboudjies word as ’n lekkerny beskou en dit sal seker nie sleg smaak nie. Gaan kyk egter by ’n nuutgeopende winkel aan die oostekant van die stad hoe lyk paddaboude wat gereed gemaak is vir die pan/oond/rooster of wat ook al gebruik word om dit voor te berei. Dit lyk nie mooi nie.

Die gevaar om bestempel te word as vol fiemies, lê in ’n ander kossoort, uiters gewild by baie mense, die gewone skaapafval wat met smaak geëet word. Om grênd te wees, word die afval gekerrie met klein aartappeltjies om die rand van die ovaal opskepskottel uitgepak. Die piéce de résistance is die skaapkop, vars uit die oond om met sy gebakte, grynsende gevreet op die tafel uitgestal te word. Mense sê die wange het nogal baie vleis. Laat dit so wees. Ek glo steeds, en ek het dit al baie gesê, dat die Groot Weldoener nie bedoel het dat ’n mens die binnegoed van ’n dier moet eet nie. Daar is mos oorgenoeg vleis aan die buitekant van die dier se raamwerk.

In die dae toe daar nog oorlog gemaak was in die Noorde het ’n kaptein in die weermag van destyds die volgende staaltjie vertel. Hulle was op patrollie en het by ’n stadjie aangekom en met die hoofman gepraat.

Dié het op ’n lae bankie gesit met ’n ou Milo-blik tussen sy voete op die grond en so tussen die gesels deur elke nou en dan sy hand in die blik gesteek, iets daaruit geneem, dit in sy mond gesteek, gebyt en iets oor sy skouer gegooi.

Die kaptein sê hy kon sien daar loop so ’n gelerige sous langs die hoofman se mondhoeke af, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Dis nou totdat een van die seuntjies uit die mahangu-land aangehardloop kom met ’n blik in die hand tot voor die hoofman. Daar gekom, haal hy die deksel van sy blik af en dop dit om oor die Milo-blik op die grond.

Die weermagman sê hy sien toe wat die hoofman so smaaklik sit en kou. Dit was niks anders as koringkrieke nie.

Toe verstaan hy die byt, die kou en die oor-die-skouer-gooi. Die sagte agterlyf van die insek was geëet en die harde borsstuk was weggegooi. Die geheim van die geel sousstrepe langs die mondhoeke was ook opgeklaar.

Navraag het aan die lig gebring dat die koringkriek ’n bron van proteïene is. Dalk was die ou hoofman slimmer as ons almal. – 15 Julie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer