Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

Hoekom ek hier skryf

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Dis vroegoggend voor werk. 

Die een helfte van my gesin is reeds uit die huis uit. Lisa se agt maande oue lyfie is langs my in ons bed waar sy rondwoel. Dan speel sy met die skootrekenaarsak se ritssluiter.

Ek moes haar poging afweer om aan die skootrekenaar te knaag en het vir haar eerder ’n bottel gegee om haar besig te hou. Voordat ek die rekenaar nader getrek het, het sy met alle mag en met so ’n ondeunde glimlaggie probeer om haar fopspeen in my mond te druk.

Ek reken die rubrieke wat ek soms skryf, kan ietwat prekerig voorkom. 

“Al weer daardie vrou wat so in die koerant probeer preek – skip hierdie een.”

Niemand het nog ooit vir my so ’n e-pos gestuur nie, as die rubriek ongewild is dan lees ’n mens dit eenvoudig nie. Ek is nie hier om ’n gewildheidskompetisie te wen nie. Ek is hier om met julle die goeie nuus te deel van ’n God wat ons liefhet en wat graag elkeen van ons as een van sy kinders wil hê.

Nadat ons ons dogtertjie Mari verloor het, het ek al ’n paar sinnelose rubriekbydraes vir Republikein geskryf. Maar ek het besef ek het die voorreg tot hierdie platform, ’n platform wat té waardevol vir sinnelose rubrieke is. 

Ek het besef dat dit wat met ons gebeur het en hoe ons geloof ons daardeur gedra het, dalk vir iemand anders van waarde kan wees. En dit is met daardie hoop dat ek skryf oor ons verlies en ons geloof in die Here.

Ons het in die tyd wat ek al hierdie rubriek skryf, ’n kind verloor en ’n kind ryker geword. Emosioneel was dit rof en ek het vir lank met twyfel geworstel oor of dit ons dan wel beskore is om ’n tweede kind te mag hê. Allermins nog ’n dogter.

Al wat ek uit ons ervaring kan sê, is dat die Here aan ons as huisgesin genade betoon het. Hy was goed vir ons. En ek wil dit graag met julle deel in die hoop dat dit iemand sal inspireer om ’n sterker en ’n volhoubare geloofspad saam met Hom na te streef.

Lisa het intussen my linkerhand hier langs my beetgekry en is besig om te koer dat dit goed gaan. Sy probeer met haar twee vlymskerp ondertandjies my vingers as koustokkies gebruik.

Veral die lekker stukkie vleis aan my hand, net so onderkant die duim. Sy is baie lief vir daardie deel van my hand. My doel, terwyl ek met net my regterhand aan die tik is, is om haar tegelykertyd tevrede te probeer hou en om nie deur daardie tandjies flenters gekou te word nie. Sy kan al lekker seer met daardie tandjies knyp, al sit hulle nog net aan die onderkaak.

Die lirieke van “Amazing Grace” kom by my op en ek wil dit graag aanhaal. Dit is ook hoe ek dit ervaar het toe dit sleg met ons gegaan het. 

“‘Twas grace that taught my heart to fear, and grace my fears relieved.” 

Vrese dat ons Mari-kind nie die ramp sou oorleef nie. En die geskenk van nog ’n kind nadat ons eerste dogter oorlede is.

“Through many dangers, toils and snares I have already come: ‘tis grace has brought me safe thus far, and grace will lead me home.”

Ons ervaring met Mari was nie die eerste teenspoed in my of my man se lewens nie en dit sal seker ook nie die laaste wees nie. Ten spyte van alles is ons oukei en ons glo dat ons eendag by God die Vader in die hemel sal tuis wees.

“The Lord has promised good to me, his word my hope secures; he will my shield and portion be as long as life endures.”

Ons lewe elke dag in geloof en hoop, dat Hy elke dag genoeg vir ons sal voorsien. Dat Hy ons teen die donker dinge in hierdie wêreld sal beskerm tot aan die einde van ons lewens. Sover was hy nog net getrou daarmee. Met liefde van Wiesie.

– Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer