Gene Travers
Gene Travers

Hoe seer is dié seer?

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
’n Regsgeleerde verduidelik nou die aand op ’n TV-program wat ’n man se regte nou eintlik is as jy jouself, jou gesin en jou eiendom teen rowers, inbrekers, verkragters en ander boewe wil verdedig.

Volgens die geleerde man, nogal ’n advokaat, mag jy die boef wat jou aanval nie seerder maak as wat jy vermoed hy jou sou seermaak indien jy jouself nie verdedig het nie.

Die probleem is nou net. . . hoe weet jy hoe seer die skurk van plan was om jou te maak voordat jy oorgegaan het na selfverdediging?

Die geleerde man verduidelik ook op die program, dat sou jy in die nag wakker skrik en jy betrap ’n inbreker in jou slaapkamer, jy nie op hom mag skiet alvorens jy nie behoorlik vasgestel het wat hy daar in die middel van die nag in jou slaapkamer soek nie. Dit is teen die wet sê hy. Verstaan ek nou dat ek die inbreker vriendelik dog dringend moet versoek om net vir so ’n rukkie stil te staan, terwyl ek gou deur die huis hardloop en ’n inventaris neem van die skade wat hy aangerig het. Of hoeveel van my kinders hy vermoor het, terwyl ek geslaap het, voordat ek terugkeer en hom of deur die kop, of deur die been of deur die vinger skiet, afhangende van die misdrywe wat hy in my huis gepleeg het?

’n Vrou wat met ’n verkragter te doen kry, moet, soos ek die advokaat nou verstaan, eers wag dat die verkragter haar klaar verkrag voordat sy haar self verdedig, want sy kon mos nie vooraf geweet het of die boef haar regtig wou verkrag of net na haar mooi bene wou kyk nie.

Soos ek die regsgeleerde verder verstaan, het die boewe nou ’n reg om hulself teen hul slagoffers te beskerm!

Dit kan later so erg raak dat ’n rower jou by die polisie kan gaan aankla as jy hom aanrand of met ’n vuurwapen dreig, terwyl hy besig was om jou te beroof. Daar kan later dalk nog wetgewing kom dat jy jou waghonde se tande moet laat trek om te verhoed dat hulle inbrekers dalkies te seer byt.

Inbrekers kan ook by die gesondheidsdienste gaan kla dat jou huis nie baie skoon was toe hulle daar by jou ingebreek het nie en hulle kan ook by hul eie regsgeleerdes gaan kla dat jy nie genoeg kontant in die huis aangehou het vir hulle om te steel nie.

Dit sal dan ook glad nie snaaks wees as jy ’n siviele eis van die inbreker kry, omdat jy op die aand van die inbraak sy tyd gemors het nie!

Diewe wat by motors inbreek, sal ook seker later verwag jy moet vir hulle ’n bottel vonkelwyn op die voorste sitplek los en handsakgrypers sal verwag dat jy vir hulle toebroodjies in jou handsak pak, want jy weet nooit hoe lank daardie arme boef op daardie dag nog moet handsakke gryp nie.

Nee wat, advokaat, ek verstaan nie meer so mooi nie.

– 19 Oktober 1995

Kommentaar

Republikein 2025-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer