Hoe om skelm kinders groot te maak
My ma is oorlede toe ek 17 was en natuurlik wens ek dit was nie so nie, maar as ek na ander mense se ouers kyk, vat ek 100 keer liewer die hartverskeurende oomblik in die oggendure by die hospitaal in Somerset-Wes en elke milligram hartseer wat gevolg het.
My ma was baie dinge, maar sy was beslis nie naïef nie. Ek het nie gereeld kattekwaad aangevang nie, maar as ek wou, het ek geweet ek kan dit nie in my kamer of enige plek op ons erf doen nie – mamma sou uitvind.
Die groot ironie is dat my ma ons nie probeer weghou het van kattekwaad of die gevolge daarvan nie. Sy was self eens jonk en het besef haar twee kinders sou êrens buite die boks moet leef.
“Vry in die bondel – dit is al hoe jy gaan weet waarvan jy hou en waarvan nie,” het sy my altyd aangeraai.
Soms op ’n Saterdagmiddag sou die twee jongste introverte in ons gesin hoor: “Nee wat, nou moet my twee kinders ’n slag uit die huis kom. Het julle nie vriende nie? Wil julle nie gaan jonk wees nie?”
Die kort antwoord: nie regtig nie.
Jy sien, in ons huis was daar net twee reëls: as jy êrens een gaan, sê waarheen, saam met wie en wanneer jy terug sal wees; en sit jou skottelgoed in die wasbak as jy klaar is.
As een of ander ding wat buite meeste ouers se reëls was my geprikkel het, sou my ma my die kans gun om dit een keer by die huis te probeer waar sy kon help as dinge skeefloop.
En dit is nie omdat my ma van die idee gehou het dat ek sigarette (onder andere) rook of minderjarig drink nie – sy het juis verstaan dat die nuuskierigheid daaroor deel is van jonk wees.
En die groot ironie is dat ek nog nooit my lippe aan ’n sigaret of die ander soort rookgoed gesit het nie. Ek kan met veiligheid sê dat ek, afgesien van ’n vloekwoordjie hier en daar, eintlik die voorbeeldigheid vanself is. Hoekom? Want skelm agter die pawiljoen rook was nooit ’n rebelse daad nie – my ma sou dan vir my sigarette gee as ek dit wou probeer. Om ’n biertjie “skelm” by ’n byeenkoms te drink, was nooit skelm nie – ek het sommer onmiddellik vir mamma vertel wanneer sy my kom haal het.
En toe sy dagga ruik, het sy gevra of ek gerook het en ek kon eerlik antwoord en nee sê – die ander mense hét en ek moes my vriendin se baadjie vat, “want haar pa sou haar afslag as hy ruik wat mamma nou ruik”.
En mamma het my geglo, want sy het geweet ek het geen rede om te jok nie. My vriendin moes egter daardie aand huis toe gaan en driedubbeld jok – oor waar sy was, saam met wie sy was en wat sy gedoen het.
“Probeer alles en behou die goeie,” het sy altyd gesê.
Terwyl klasmaats gepraat het van hoe hulle ma’s amper hul dagga in hul kamer ontdek het of hoe hulle moes voorgee dat botter nie in hul mond kon smelt nie, kon ek maar net luister. My ma het al my skandes geken en sy het besef dit is deel van grootword.
Ek verstaan regtig nie hoekom ouers daarop aandring dat hulle kinders stroopsoet, foutlose engeltjies moet wees nie. As jy dit self nie kon regkry nie, wat laat jou dink jou kind kan? Ons almal het tjol aangejaag – die verskil is of jou kind dit vir jou wegsteek of nie.
Gaan jy hulle leer wat die volwasse ding is om te doen wanneer die gevolge van hul kattekwaad by hul voordeur is? Of gaan jy hulle toelaat om stilletjies die dwase en onvolwasse ding te doen terwyl hulle leer dat hulle vir mamma en pappa met niks kan vertrou nie? In ons huis was daar gevolge, maar dit was die gevolge van jou eie dade.
As jy iets lelik vir iemand gesê het, was die gevolg dat jy in daardie situasie die volwasse ding moet doen en hulle in die oë gaan kyk en om verskoning vra.
Hier is die werklikheid: kinders ontwikkel gewoonlik tussen die ouderdomme van 9 en 15 seksuele drange, die meeste mense gebruik dagga vir die eerste keer op die ouderdom van 14 en die meeste mense begin alkohol op 15 of 16 drink.
Gaan jou kind by hul vriende (wat net so nat agter die ore soos hulle is) leer van dagga, seks en drank of by jou? Ek dink die antwoord is duidelik en ek is bly my ma het goed gekies.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie