Annemarie du Toit
Annemarie du Toit

Hoe ’n koerant my hart laat terugvind het

Annemarie sê maar net
Annemarie du Toit
Soms weet jy van kleins af wie jy is, maar die wêreld praat jou stil. Ander dogtertjies het gedroom van pienk naels en hare doen, maar ek het altyd geweet my hande is gemaak vir ink. Vir stories. Vir woorde. Vir wêrelde.

My ma het gesê ek moet ’n joernalis word; ek het geglo ek gaan die volgende J.K. Rowling wees. Maar dan word jy groot en hoor jy van boeke en koerante wat stof vergaar, joernaliste wat sukkel, drome wat te duur raak. So, ek het besluit ek sal die veilige pad stap, ek sou ’n prokureur word, ’n vaste salaris, ’n netjiese lewe.

Maar toe neem die lewe draaie wat geen CV ooit sou goedkeur nie. Ná 16 jaar in gevaarlike Johannesburg, stad van goud, word ek skielik geplant in Gobabis, ’n plek waar die wind sagter praat en elke sonsopkoms soos ’n storie begin. Skielik kry elke rooisandpad ’n ritme. Elke boom ’n geheim. Skielik het ek weer gesien die wêreld is vol woorde wat wag.

Toe gebeur dit by Spar van alle plekke. Ek vou Republikein oop en vir die eerste keer in 'n lang tyd lees ek nie sensasie, drama, en lawaai nie. Ek lees waarheid. Rou, eerlike realiteit. Ek lees my taal. My mense. My land. My hart. En op daardie presiese dag het iets in my oorgeskakel: Ek wil stories skryf wat saak maak. Stories wat lig bring. Stories wat iemand se wêreld verskuif, al is dit net ’n bietjie.

My oupa, Lourens Duvenhage, het jare lank as onderwyser tale gegee in hierdie land. Ek dink hy het geweet ek sou hier eindig tussen sinne, stories en mense. By Gobabis Gimnasium se redaksiespan het ek my eerste woorde hardop durf sê en daarna het ek honderde stories en gedigte geskryf wat ek lank net vir myself weggebêre het.

En dalk, as ek mooi daaraan dink, het my liefde vir stories nóg vroeër begin by my pa. Die man wat soms nie geld gehad het vir luukshede nie, maar altyd ’n manier gekry het om vir my ’n nuwe boek te koop. Selfs al het dit beteken hy koop vir homself minder. Hy het nooit “nee” gesê vir woorde, vir verbeelding, vir drome nie. Hy het my elke keer herinner dat kreatiwiteit nie ’n straf is nie, maar ’n lewenslyn. Dat stories mense red. My pa het, sonder om dit ooit hardop te sê, het my geleer dat ’n kind se liefde vir literatuur en lees iets is wat jy koester al kos dit jou ’n bietjie meer as wat jy het. En ek dra daardie stuk van hom elke dag saam wanneer ek skryf.

Ek het nog steeds teen die droom vasgeskop van skryf, eerder geld maak, sukses bou, die “grootmens”-pad stap. Maar toe ek die eerste keer my voete in NMH se nuuskantoor sit, het my hart uitgeasem en gefluister: Hier. Hier is jy tuis.

So hier staan ek nou: ’n jong Afrikaanse meisie wat kies om haar wêreld in haar moedertaal te teken. Wat drome dra wat sy lank laat lê het. Wat glo dat stories mense kan heel maak, inspireer en verander. Danksy een uitgawe van Republikein en die lewe se kronkelpaaie het daardie dogtertjie van gevaarlike Johannesburg uiteindelik die moed gekry om te word wie sy nog altyd was.

Die eerste van baie stories. En hierdie keer, steek ek hulle nie weg nie ek skryf hulle vir die wêreld.

Baie geluk met jou 48ste verjaardag, Republikein!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer