Hierdie is jou ‘wake-up call’
Wanneer ’n mens trauma beleef, het jy ’n keuse oor hoe die ervaring jou gaan definieer.
Is jy die slagoffer van jou omstandighede of kyk jy die gebeure vierkantig in die oë en maak jy iets positiefs daarvan?
Ek besef dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, maar ek glo vas dat as jy geloof en God aan jou kant het, kan enige moeilike situasie vrug vir Hom dra.
Vir sommige mense is trauma die einde van hul geloof in God. Ek weet nie genoeg van sielkunde om te verstaan wat daartoe lei nie, maar voorbeelde daarvan bestaan.
Die trauma wat ek en my gesin beleef het, was ’n skokskoot vir ons, of om die meer gewilde Engelse term te gebruik – ’n “wake-up call”.
Iets wat jou laat besef die lewe gaan oor meer as net die alledaagse gejaag wat ons ervaar. Dit is glo nogal ’n algemene verskynsel nadat ’n mens trauma beleef het en dit is vir my goed dat dit so is. Anders sou ons dalk nie mense soos Ronel en Sybrand de Beer in hierdie wêreld gehad het nie.
Hul bediening, Legacy of Love, is in 2017 gestig nadat hulle skielik hul oudste dogter Lumé op die ouderdom van 11 aan ARDS (akute respiratoriese noodsindroom) verloor het.
Hul dogter se liefde vir die lewe en notas oor die liefde wat sy in haar joernaal gemaak het, het haar ouers geïnspireer. Hulle het ’n platform geskep om na ander uit te reik en hul gesin se verhaal te deel, ander te inspireer en te help met genesing.
Om ander ouers wat ook verlies in hul lewens gely het, te help troos en by te staan. Dit is hulle doelwit om bewusmaking van onvoorwaardelike liefde te versprei, soos waarvan daar in 1 Korinthiërs 13 gepraat word.
Ronel het ook ’n tydskrif wat sy uitgee, getiteld Family Thyme, waarin daar artikels gepubliseer word rondom die temas van gesinslewe, ouerskap, gesondheid en geloof.
Soos met baie ander, het God hulle voorberei vir hierdie taak wat Hy vir hierdie twee mense en hul gesin gehad het en is van die sade van hul huidige bediening reeds geplant voor hul dogter se afsterwe.
Hierdie mense se verlies het ’n bediening geword. Wat my net laat wonder hoekom ons altyd moet wag tot ons ’n krisis beleef voordat ons aksie neem met al die idees waarmee ons rondloop.
Hoekom kan ’n bediening nie ook eenvoudig uit ’n idee wat God by jou geplant het begin nie? As jy vandag hierdie lees en weet van watter idee ek praat, wil ek vra dat die gedagte nie net ’n gedagte moet bly nie.
Neem tog aksie en maak iets van die inspirasie wat God vir jou gegee het. Lukas 10 vers 2 AFR53 praat daarvan – “Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.”
Dalk is jou bediening om mense wat trauma beleef het met mense soos Ronel en Sybrand te verbind. Dalk is dit iets anders.
Wat van belang is, is dat daar geluister moet word na die doelwitte wat God vir jou lewe het en dat daar uitvoering gegee word aan daardie doelwitte.
Met liefde, van Wiesie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie