Heuningkwas in bakhand
Sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers – Om te sê dat daar nog geen ontwikkeling in Namibië was sedert onafhanklikwording nie, is darem nou ook nie heeltemal waar nie.
Misdaad ontwikkel fluks en die bedelbedryf is ook besig om ’n prominente plek in die land se ekonomie in te neem. Nou weet ek nie of die bevolking by die regering geleer het hoe om te bedel nie, maar daar is ’n paar manne wat al daarin geslaag het om bedelary tot ’n fyn kuns te ontwikkel.
Twee kêrels stap by my kantoor in en herinner my aan die hegte vriendskapsbande wat ons jare gelede op Oshakati gesmee het. Ná ’n hartlike handskuddery en ’n “ou Gene” voor en “ou Gene” agter, word daar verneem na die welstand van my ma en pa, my ouma en oupa en skoothondjie wat ek nog nooit eens gehad het nie.
Ek het nog probeer dink waarom ek dan nie die twee ou vriende van my kan onthou nie toe die een begin verduidelik dat hy nou sy kredietkaart by die huis vergeet het. Ek moes net vir hom R200 voorskiet en my bankrekening se nommer vir hom gee. Die R200 voorskiet sal dan sommer die volgende dag reeds regstreeks op my rekening inbetaal word.
Ek het verduidelik dat koerantmanne dit ook nie so breed het, dat hulle met R200 in hul sakke kan rondloop net vir ingeval hulle ou vriende wie se kredietkaarte by die huis vergeet is, moet uithelp nie.
Dit is nie ’n groot probleem nie, word verduidelik, R100 sal ook doen. Die prys het later afgekom na R50, maar toe ek steeds verduidelik, dat ek nie geld het om mee te help nie, kon ek sien dat ons ou vriendskap besig is om te kwyn.
My een ou vriend het verontwaardig begin raak en gevra of ek dan nie die geld iewers wil leen om hulle te help nie. Steeds kon ek nie help nie en ek sien toe dat ons ou vriendskap nou iets van die verlede is. Hulle is brom-brom uit op soek na dr. Jan Spies se kantoor, want hy is dan ’n baie beter ou vriend as ek.
Oom Liep Maritz vertel my van die man wat by hom opgedaag en vertel het van al die jare wat hy in die verlede by oom Liep se seun gewerk het.
Dit gaan nou baie beter met hom, want hy werk dan nou as ’n plaasvoorman op ’n jagplaas naby Windhoek.
Omdat die seun altyd so goed was vir hom, gaan hy oom Liep nou ’n baie groot guns bewys en vir hom ’n gemsbok vir so min as R160 bring.
Ongelukkig het hy sy beursie op die plaas vergeet en hy het net R100 nodig vir brandstof, wat dan sommer ook as afbetaling op die bok sal dien.
Oom Liep wag nou nog vir die gemsbok.
’n Windhoekse boemelaar keer my op straat voor en vertel my hoe geniet hy die spotprente wat ek in die koerant teken. Het ek dan nou nie net ’n paar dollars om die hongerpyne te stil nie?
Ek verduidelik dat ek niks by my het nie, maar ek is op pad bank toe en as hy net daar vir my wag, sal ek hom met ’n paar rand help. Intussen raak ek toe besig en vergeet skoon van die man wat so ’n hoë dunk van my werk het. Die volgende dag loop ek hom weer raak en ek word uitgetrap soos selfs Des dit in 20 jaar nog nooit gedoen het.
Wie de hel dink ek is ek om hom so laat wag? Ek mors sy tyd!
– 14 Julie 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie