Thia Weck
Thia Weck

Herinneringe en werklikheid

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann

Hy glimlag skeef. Druk sy bril so terloops met die een vinger reg en strek sy bene in die gebleikte jeans voor hom uit. Ons sit op die sypaadjie van een van Stellenbosch se strate en probeer met eerstejaar-idealisme die wêreld se probleme oplos.

Nogal oulik dié Suidwester, dink ek. Maar beslis nie troumateriaal nie. Daarvoor moet dit eendag ’n Kapenaar wees.

Hy vertel my van sy land. Oop ruimtes, die mooie woestyn, uitgestrekte savannevlaktes, rooi sonsondergange en die melkweg wat nêrens so duidelik gesien kan word nie. Ek luister verwonderd sonder dat ek rêrig wil. En die tyd saam glip verby sonder dat ons dit agterkom.

Hy vul my dae met tipiese studente-dinge soos klippies teen my koshuisvenster, boodskappe op die kennisgewingbord en bosse gesteelde blomme – afkomstig van ’n pragtige kerktuin in die omgewing waaraan die arme kosteromie seker elke Saterdagoggend soveel tyd en moeite bestee het.

Dié stukkie belyde waarheid het ek natuurlik veel later eers verneem.

En dikwels dink ek terug aan die aand toe ek hom die eerste keer gesien het. Hoe ek en my kamermaat ’n pak beskuit (van alle dinge) vir haar skoolvriend in ’n manskoshuis moes loop gee. Skoolvriend se ma het so verlang en uit ’n baie geldige vrees dat dié geskenk in ’n manskoshuis verlore sou raak, het sy die beskuit maar na ons gestuur.

Dit was nie juis een van die bevorderendste dinge vir jou eerstejaarsego om ’n manskoshuis met ’n sak beskuit in die een hand te betree nie, maar ons het nie veel van ’n keuse gehad nie.

Toe ons uiteindelik besluiteloos voor die ingang van die raserige manskoshuis staan en rondtrap, kom die Suidwester om die hoek gestap. En bied doodluiters aan om ons na die skoolvriend te neem. En neem sy kans waar en nooi ons vir koffie. En daag die volgende aand by die koshuis op omdat “hy toevallig in die omgewing was”. En daag die aand daarna ook op – “omdat hy…wel, in die omgewing wou wees”.

Maar ek bly versigtig. Onseker oor wat Suidwesterhande met ’n Bolandse hart sal maak.

Hy doen impulsiewe dinge wat ek nie verstaan nie. Ry in die hartjie van die koue Bolandse winter op ’n trekkerband met die ysige Eersterivier af en lag vir my as ek met hom raas. Gaan swem in die middel van die nag met klere en al in die see. En “stick” my vir koffie en koek bo-op Tafelberg.

Ek kom agter hy luister na wat ek sê. Neem my altyd ernstig op. As ek alleen wil wees hoef ek nie te verduidelik nie. Hy verstaan.

En op ’n dag besef ek my hart wil nie meer ’n Kapenaar hê nie. Dit is toe sy impulsiwiteit wat my voete onder my uitslaan. Sy liefde vir die lewe wat my bewondering wen. En sy skewe glimlag wat ek voor my sien as ek my oë toemaak.

’n Mens kan dit nie help nie. Rondom Valentynsdag wil jy onwillekeurig die stof van ou herinneringe afblaas en dit oorbeleef. En kom die besef dat die herinneringe aan die eerste groot liefde seker een van die min onthou’s is wat altyd vars bly.

Ek wonder of my Stellenbosch-liefde nog die geur van lente in Eerste Laan kan onthou. En ek wonder watter herinnering hy sou hê as hy hierdie paar gedagtes van my vandag kon lees?

Miskien sal ek hom vra wanneer hy vanaand huis toe kom. – 13 Februarie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer