Hardloop jou resies
Ek het onlangs besef ek moet weer fiks word. Maar ek ken myself: As ek té groot begin, gaan ek dit nie volhou nie. Toe besluit ek ek gaan dit een lamppaal op ’n slag aanpak.
Die eerste dag hardloop ek tot by die eerste lamppaal en terug. Die volgende keer twee. Daarna drie. Só het dit aangegaan, stadig maar seker.
Voor ek my kon kry, was ek al by 110 lamppale, wat beteken 220 lamppale altesaam met die terugkomslag. Dit klink belaglik, ek weet, maar vir my was dit ’n oorwinning elke keer as ek net één paal verder kon hardloop.
Om dit só te doen het sin vir my gemaak. ’n Lamppaal lyk naby, maklik bereikbaar, nie vreesaanjaend ver nie. Maar een lamppaal word twee, twee word tien, tien word 30. . . en een oggend besef jy: Ek is sommer ver. Só bereik ’n mens mylpale – stadig, maar seker.
By omtrent 70 lamppale het my dogter by my aangesluit. Sy is natuurlik fikser as ek, maar in die begin het sy ook bietjie gesukkel. Nou is sy amper vinniger as ek.
Party dae hardloop sy voor, party dae is dit my beurt. Sy eindig dikwels eerste; dit gebeur minder gereeld met my – maar dit pla my glad nie. Wat vir my belangrik geword het, is dat sy saam met my hardloop.
Daar is baie dae wat ek nie lus is nie. Dan vra sy: “Gaan ons nie hardloop nie?”
“Nee, ek voel nie vandag lus nie.”
En dan kyk sy na my met daardie effens teleurgestelde gesiggie. . . en daar gaan ek: “Oukei, kom ons gaan.”
Ná die tyd voel ons altyd goed. Dis ’n klein oorwinning, maar ’n broodnodige een. Dis ons tyd saam; sonder fone, sonder geraas. Net ons en die pad.
Ek het een keer probeer om sonder haar te gaan. Ek het nie klaargemaak nie. Ek kon net nie gemotiveerd bly nie. En soms gaan sy sonder my en maak ook nie altyd klaar nie. Dis snaaks hoe twee mense mekaar dra sonder dat hulle dit beplan.
As sy nie lus is nie, sê ek: “Kom, ons gaan.”
En dan gaan sy saam. As ek nie lus is nie, motiveer sy my weer. Só het hardloop vir ons iets geword wat meer werd is as net fiksheid – dit het ons gehaltetyd geword. Ons ietsie wat ons saam aanpak.
Maar die grootste les lê in wat langs die pad gebeur. Partykeer sien ek sy sukkel – dalk is sy ’n bietjie seer, dalk moeg, dalk het sy net nie ’n “great” dag nie.
Dan sê ek vir haar: “Net tot by die volgende paal. . . net tot daai draai. . . net oor die bult. Ons is oor die helfte. Jy kan nie nou stop nie.”
Sy sê dan: “Sê dit weer,” en ek sê dit weer. En weer. En dan, skielik, het ons nóg ’n lamppaal gemaak. Nóg 50 (maal twee) meter. Nóg ’n bietjie vasbyt. En voor ons weet, is ons by die einde, sonder dat ons opgegee het. Nat van die sweet. Poegaai. Gelukkig.
En dit – hierdie een-paal-op-’n-slag-ding – is presies hoe die lewe werk.
Die lewe voel soms lank. Soms swaar. Soms té veel. Daar is dae wat jy net wil ophou probeer. Daar is draaie wat jou moed breek, bulte wat jou asem wegslaan. Jy kan nie die eindstreep sien nie en alles in jou wil sê: “Laat ek net hier stop, ek is moeg.”
Maar die waarheid is: As jy nou stop, gaan jy nie gelukkig wees nie. Jy gaan terugdink en wonder hoe naby jy dalk was. Want dis hoe die lewe is – die einde is dikwels net na die volgende lamppaal, maar jy weet dit nie.
Dís hoekom ons mekaar nodig het. ’n Mens kan beslis alleen hardloop, maar dit is baie moeiliker. Wanneer jy iemand het wat saam met jou die pad aanpak – jou kind, jou maat, jou geliefde – verander alles.
Om iemand te hê wat vir jou sê: “Kom, net tot by die volgende paal,” kan jou deur die donkerste dele dra. En môre dra jy hom of haar. Só inspireer ons mekaar, só help ons mekaar om aan te hou hardloop, geduldig en vasberade.
Ons almal het ’n wedloop om te hardloop. Myne lyk anders as joune. Maar die beginsel is dieselfde: Moenie ophou nie. Moenie halfpad tou opgooi nie. Hardloop jou resies. En hardloop dit geduldig.
En as jy gelukkig genoeg is om iemand te hê wat saam met jou die pad aandurf – hou hul hand vas, sê vir hulle dankie, en hou aan. Net tot by die volgende lamppaal. En die volgende. En die volgende.
Voor jy jou oë uitvee, is julle by die einde – saam.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie