Gene Travers
Gene Travers

Handpompers besmet mooi gebaar

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Gene Travers – Soos ek die ding verstaan, kom die saluut uit die ou Romeinse tyd toe vreemdelinge wat mekaar op hul reistogte aangetref het die regterhand met die palm na vore opgesteek het om aan mekaar te wys dat hulle in vrede kom en dat daar geen wapen in die hand is nie.

Die saluut word dan nou nog veral in weermagte gebruik om respek aan offisiere te betoon. (Of is dit nou ook om aan hom te wys jy het nie ’n mes in jou hand om hom in die rug te steek nie.)

Die saluut het later in ’n vorm van groet verander en dit is dan nou waarom mense vir mekaar waai en mekaar se hande skud.

Dis ’n mooi gebaar as jy ’n familielid of vriend wat jy lanklaas gesien het se hand vat en sy blad hartlik skud om aan hom te wys dat jy werklik bly is om hom weer te sien. Maar nou kry jy ongelukkig ook die handpompers.

Dis nou daai mense wat jy glad nie ken nie, wat jou op straat voorkeer en jou hand wil skud. Ek beskou myself as ’n vriendelike mens en groet mense graag, maar as daar nou een ding is waarvan ek nie hou nie, is dit ’n onnodige gehandpompery met mense wat jy nie eens ken nie.

Dan kry jy nog van die handpompers wat aan jou wil wys hoe sterk hulle is deur jou kneukels te probeer stukkend druk of die handpomper wat ’n pap hand soos ’n nat waslap in joune wil druk.

Dié handpompers kan so op ’n manier nog gaan, maar die ouens wat pas uit ’n toilet gestap kom en jou hand wil skud en die man met die sementsere maak my bang.

Sou jy weier om dié mense se hand te skud, is hulle gewoonlik vies vir jou en loop en vertel aan ander mense wie se hande hulle pomp wat se onbeskofte ou jy nou eintlik is.

Ek dink veral in hierdie tye waar kieme wyd in omloop is, kan ons maar gerus ’n ander manier gebruik om mekaar te groet.

’n Vriendelike wuif met die hand of ’n hartlike “goeie môre” is na my mening heeltemal voldoende.

Dink net wat sal gebeur as jy elke ou wat jy ken met die hand moet groet elke keer as jy hom op straat raakloop. Dink net wat sal gebeur as vreemde mense jou op straat voorkeer en wil soengroet!

Dink net hoe al daardie mense op Hentiesbaai gaan voel as hulle hul burgemeester met die hand moet groet wanneer hy na Langstrand vertrek.

’n Vriend van my in die motorhandel sê my sy besigheid is nou so stil dat hy hoor hoe loop die motors se battery af en hy kan die goed nie eens groet nie. Wat nog te sê die hand skud. – 10 Julie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-08-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer