Hallo my Pa
Ons het verlede Donderdag die langpad Pretoria toe aangedurf. Ek en Manlief hou van langpad ry, veral as ons dit soos ’n sloertoer kan benader. Ons het weggespring na werk, eers net tot by Buitepos waar ons vir oulaas kon volmaak met die Namibiese rustigheid. Douvoordag was ons oor die grens en deur Botswana. . . vier volstruise, baie beeste, agter die bos ’n klompie perde en ses-en-sewentig langore verder het ons uitgespan by die verre familie in Mafikeng. Daar is ons verwelkom met Neef se hartlike “Welkom, Nig!”, sy vroutjie se watertand sjokoladekoek en die ope armpies van hulle drie orrelpypspruite. En soos egte Afrikaners was ons 8:30 by ons wa, maar het ons eers na 10:00 in die pad geval. Die Jakarandastad, Pa en Ma se almamater, was prettig pers en ’n voorskou van die pragtige herinneringe wat ons saam met die peetfamilie sou inpalm oor die volgende paar dae. Saterdag was dit tyd vir die rede van ons reis – Akademia se eerste studentemusiekblyspel met ons eie kuiken op die verhoog. Sjoe, en sou Pa dit nou saam met ons geniet het! Centurion Teater het uit sy nate gebars met die klanke van “Daai kleindorpiegevoel” onder leiding van groot name in die musiekbedryf, soos Jannes Erasmus. Die talentvolle toekomstrappers het ons meegevoer op die ritme van sokkiejolyt en die klankgolwe van dialoog en musiek in allerheerlike Afrikaans. Ons het die middag se vertoning so terdeë geniet dat ons sommer die aand s’n ook gekyk het!
Petronella F Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie