Hallo Ma
Mamma, ek het lanklaas amptelik in die koerant met Ma gesels. In 2024 laas. Ek is dankbaar dat ek ’n boek gepubliseer kon kry waarin ek my gesprekke met Ma vasgelê het. Weet Ma daarvan? Is daar ’n engel in die vorm van ’n kind, of vriendin of ’n hemelse amptenaar wat sodanige nuus na Ma toe kan deurgee?
Vandag is dit twee jaar ná die boek en 15 jaar ná ons laaste groet. Dis hoeka Moedersdag vandag. Ek soek ma se hand wat oor my hare streel. Maar Ma is elders, en die lewe gaan voort.
Kom ek sê Ma wat ons vandag gaan doen: maak Ma se sitplekgordel vas. Dit gaan rof raak. Die kinders kom kuier, en ek en manlief beplan lekker kos. Of liewer, ek beplan die kos en manlief sorg vir die vuur.
Vuur vir die kos en vir die koue, want dit het skielik koud geraak hierdie jaar. Die een dag het ons nog ’n laaste stormreën beleef, en die volgende dag was daar nie ’n wolkie in sig nie. Saam met die opkomende son het die Nieudamkoppies stil en koud in die blou hemel opgedoem. Die lig, so helder dat jy selfs die bome in die verte op die koppies kon uitmaak. Gou het die grasse buite kraakdroog geword.
Daardie einste kraakdroë gras dien vandag as blits vir die vuur. Fynhout word bymekaargemaak, en die dik stompe van dooie takke maak die boonste laag van die stapel uit. Die Windhoek-kinders daag op, my hart is bly en die honde se sterte swaai tot kort duskant hulle bekke. ’n Bierbottel se doppie skiet hier en daar die lug in en die vlamme laat die houte kraak.
En tussen alles deur hou Ma en Pa, en manlief se Ma Lulu en Pa Vivian ons vanuit die fotorame op die muur dop. Gedagtes. Vrae.
Ma, jy smile vir my.
As Ma daar vanuit die raam kon sien, sou ma seker gesê het: “Sjoe, my meisiekind is nou ook nie meer jonk nie. En haar kinders nader nou stadigaan dieselfde ouderdom as húlle ma toe sy van háár ma moes afskeid neem ... Kan die tyd so vinnig loop?
By die warm stoof raak ek van die eerste laag klere ontslae, en ek kon hoor hoe Ma sê. “Chrisna, trek áán jou trui.” Ja Ma, ek doen nou dieselfde met my kinders en kleinkinders. As ek koud kry, moet hulle hul truie aantrek.
Ek sukkel met die mieliegebak waarvan ek die resep die vorige oggend op DStv se ontbytsake gekry het. Die bestanddele van die resep voorspel hemelse smake, maar die hoeveelheid vloeistof is nie in die kol nie. Te veel vog. Ek doen wat mens moet doen om daarvan ontslae te raak. Skep lepels vog van die bolaag af, druk droë stukke brood bo-op om dit op te suig, en sit die spul terug in die oond en stel dit dié keer op rooster. “Grill, bliksem”.
Ek verluister my aan my kinders en skoonkinders wat kuier en ervarings uitruil. Genade Ma, ons almal het grootmense geword. Hulle ook. Gelukkig is die kleinkinders daar wat nog op die ou manier sake met mekaar uitstryk met behulp van kort, hewige rusies, opgevolg deur ’n gejaag om tog die laaste hou in te kry. Sekere dinge is darem nog dieselfde. Dankie tog ...
Die meisiekinders het die slaai mooi uitgepak op die bord. Die knoffelbotter vir die steak is reg, die eerste stukkies wors is al afgebreek en geproe en die tjoppies beland in die pot. Die mieliegereg dril voort in die oond. Ek haal dit uit, gooi sonder seremonie die orige vog af in ’n koppie, breek ’n pak tjips op in krummels en strooi dit bo-oor die souserige massa. Tafel toe met jou!
Vroegaand vat ons hande, en my Engelsman bid: For what we are about to receive, may the Lord make us truly thankful. Ek dink aan my Oupa Adriaan op die plaas op Riviersonderend: Zegen Vader, die geeft ons eten. Laat we nimmer uw vergeten.
Ons skep op. Intussen bring iemand gou nog die servette, en later word ’n ekstra potjie sout en peper en die brandsous nadergesleep. Tussen die gepraat en geëet brand die binnevuur kleiner. Die laaste van die mieliegebak word met stukke brood uit die bak opgevee. Ek blaas ’n soen na die fotorame op die muur.
’n Mooie Moedersdag vir jou, my Ma. En baai Ma.
Jou ... ja tog ... jongste
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie