Adam Hartman
Adam Hartman

Hallo, asseblief en dankie

Adam Hartman

Daar was ’n tyd toe mense mekaar gegroet het.

Nie omdat hulle moes nie. Nie omdat dit goeie maniere was wat deur ’n ouer of onderwyser ingeprent is nie. Hulle hét net. ’n Glimlag. ’n Kopknik. ’n “Môre”. ’n “Hoe gaan dit?” Selfs stilte het anders gevoel. Minder koud. Minder verdedigend.

Nou stap mense verby mekaar soos vreemdelinge wat mekaar nie wil raaksien nie. Oë vasgenael op ’n skerm. Ore toegedruk met oorfone. Gesigte leeg. Moeg.

Wantrouig. Dit voel soms asof die wêreld nie net harder geword het nie, maar donkerder. Asof iets van ons menswees stadig maar seker besig is om uit te doof.

Ons leef in ’n tyd waar mense desperaat is vir aandag, erkenning en bevestiging. Sosiale media het vir baie ’n soort spieël geword waarin hulle heeldag moet kyk om seker te maak hulle bestaan nog.

Nog ’n selfie. Nog ’n video. Nog ’n plasing. Nog ’n “like”. Nog ’n volgeling. Nog ’n poging om raakgesien te word in ’n wêreld waar almal skree, maar min mense regtig luister.

En tog, ten spyte van al die tegnologie wat ons kwansuis meer verbind, voel mense eensamer as ooit tevore.

Mens sien dit oral. In winkels. In verkeer. By skole. By restaurante. Mense groet nie meer nie. Of hulle groet halfhartig. Of hulle kyk sommer dwarsdeur jou.

En die snaakste ding is: Baie mense wil dalk groet, maar hulle is bang die ander persoon gaan hulle ignoreer. So bou die wêreld stadig ’n muur van stilte. Een persoon op ’n slag.

Ek is iemand wat groet. Ek groet almal. Die bedelaar op die straathoek. Die man wat in die asblikke krap. Die winkelbestuurder. Die politikus. Die sekuriteitswag. Die president as ek haar sou raakloop. Dit kos niks om iemand as ’n mens raak te sien nie.

En weet jy wat? Dit is dikwels die mense wat die minste het wat die vriendelikste is. Hulle glimlag terug. Hulle sê dankie. Hulle maak oogkontak.

Miskien omdat hulle nog verstaan hoe belangrik menslike warmte is. Hoe nodig dit is om erken te word. Om nie onsigbaar te voel nie. Maar die wêreld raak koud.

Jy stap ’n winkel binne en vra beleefd om hulp en jy word behandel asof jy iemand pla. Asof die persoon agter die toonbank vir jóú ’n guns doen.

Soms is mense net vriendelik wanneer die bestuurder naby staan. Ander kere lyk dit asof almal net moeg is vir alles. Moeg vir mense. Moeg vir hulself. Moeg vir die lewe.

En ja, die lewe is moeilik. Mense dra swaar. Finansieel. Emosioneel. Geestelik. Maar dalk is dit juis hoekom vriendelikheid belangriker as ooit van tevore is.

Ek onthou hoe ek een dag ’n jong vrou langs die pad met swaar inkopiesakke gesien het. Ek het stilgehou en gevra of ek haar kan aflaai.

Sy het my met wantroue aangekyk. Asof daar noodwendig ’n bybedoeling moes wees. En eerlikwaar, ek verstaan dit ook. Die wêreld het mense bang gemaak. Mense vertrou nie meer nie.

Maar dis tog hartseer.

Hartseer dat goedhartigheid verdag geword het. Dat mense bang is vir mekaar. Dat ons mekaar eerder vermy as om te help. Dat ons kinders grootword in ’n wêreld waar hulle geleer word om versigtig vir almal te wees, eerder as om lief vir mense te wees.

Selfs gewone hoflikheid verras mense deesdae. Maak ’n deur vir iemand oop en hulle kyk jou verbaas aan. Laat iemand voor jou in die verkeer inry en hulle reageer asof jy iets buitengewoons gedoen het.

Maar dit was eens op ’n tyd normaal. Basiese ordentlikheid was nie ’n uitsondering nie. Dit was deel van menswees.

Dan is daar nog die verdeeldheid tussen mense. Ras. Kultuur. Geld. Status. Die idee dat een mens beter as ’n ander is. 

Ons verdeel mekaar in kampe en etikette en vergeet dat ons almal eintlik dieselfde soek: Om raakgesien te word, gerespekteer te word en iewers te behoort.

Miskien is dit hoekom ons nie moet ophou groet nie. Nie moet ophou glimlag nie. Nie moet ophou dankie sê en asseblief sê nie. Want iemand moet die ligte aanhou.

Ek het nog altyd gesê Namibië moet die laaste land wees waar die lig uitdoof terwyl die wêreld donker raak. Maar die lig waarvan ek praat, is nie straatligte of geboue nie. Dis mense. Dis daardie klein vlammetjie van ordentlikheid, sagtheid en medemenslikheid.

En daardie lig flikker gevaarlik.

Ons moet versigtig wees dat vriendelikheid nie ’n eienskap is wat besig is om uit te sterf nie. Dat ons kinders nie grootword met die idee dat kilheid normaal is nie. Dat hulle nie leer om hard en gevoelloos te wees net om hulself te beskerm nie.

Want om mens te wees, beteken tog meer as sinisme, woede en wantroue.

Dit beteken om mekaar raak te sien. Om mekaar te groet. Om nog “asseblief” en “dankie” te sê.

En dalk, net dalk, is dit waar die lig weer begin.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer