Leandrea Mouers
Leandrea Mouers

Haal ’n bietjie asem

Leandrea mouers
Verlede week het ek met die skoolhoof van The International School of Walvis Bay, me. Henda Meyer, gesels en sy het ’n bietjie wysheid met my gedeel.

Sy het gesê: “Life is so fast and demanding; just take a breath.”

Sy het ook vertel hoe sy ten minste vyf minute in haar besige dag neem om haar rekenaar en selfoon af te sit, haar kantoordeur toe te maak en net asem te haal.

Jy dink dalk “asemhaal? Dit is tog natuurlik”. Ja, dit is waar. Ons is so netjies geskape dat dit een van die vele funksies is wat sonder moeite gebeur. Maar soms vergeet ons om net “asem te haal”.

Alles is deesdae “instant” – kitskoffie, kitskos, alles is met die druk van ’n knoppie beskikbaar. Dit programmeer ons ongemerk om ook op dieselfde vinnige tempo te leef.

Maar ons is nie so geskape nie.

Ek het onlangs gelees “burnout is a sign of misplaced identity”.

Waarom hardloop ons so rond? Is dit vir ons eie ego? Vir die goedkeuring van ons werkgewer? Van ons vriende? Vir sosiale media?

Hierdie gesprek het my laat besef ek moet net asemhaal. “I must stop and smell the roses.”

’n Paar jaar gelede was ek op ’n donker plek. Ek het myself voortdurend gedruk om beter te presteer, om daar vir almal te wees; dit ten koste van myself en my familie.

Maar soos Buster Moon van Sing sê: “The only way from rock bottom, is up.” Maar dit is nie altyd nodig om “rock bottom” te bereik nie.

Dus, hier is jou vriendelike herinnering – haal asem. Die wêreld sal aanhou draai vir daardie vyf minute wat jy net stop en asemhaal. En ek praat nie van ’n blaaskans waar jy jou foon gryp en deur sosiale media “scroll” nie. Ek bedoel ’n regte blaaskans – om ’n draai te loop, om diep asem te haal, na die voëltjies te luister, of net ’n kort breek van die malheid van die wêreld te vat.

Ek praat ook hier met myself. Ek is geneig om te dink ek is “SuperVrou”, maar as my liggaam nie meer kan nie en ek maak foute of raak super-emosioneel, moet ek myself herinner om asem te haal.

Ek het ook ’n tydjie terug gelees dat selfs een van die merkwaardigste mense op aarde, Jesus, nie rondgehardloop het nie. Hy het tyd geneem om te rus, te bid, en om stil te wees te midde van ’n storm.

Ek is mos nie ’n robot nie; ek is ’n mens, en ek is beslis nie hier om soos ’n hoender sonder ’n kop rond te hardloop nie.

Uitdagings vir die week: Haal asem en ry teen die spoedlimiet. :) – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer