Groot pronker, kaler jonker
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Dit is nie van gister af dat voëls aan die jakaranda vreet nie, maar dit is die eerste keer dat daar ’n duidelike baas op die werf is.
Die jong vinkmannetjie het nie net die eetplek geannekseer nie, maar die rietbos, en die oorstootwater op die swembad-oortreksel.
Hy is meer mens as vink.
Alles aan die ou is spoggerig en hy straal ’n soort hardkoppige beterweterigheid uit wat nie eintlik by ’n voël tuishoort nie.
Die ou se geel vere herinner baie aan van die ou wedders wat destyds met hul geel pakke klere op wedrendag heen en weer tussen die Gross Hertzog en Haralambus se wedplek ingehardloop het.
Ek begin my al verbeel ek sien die vink met ’n sigaar in sy bek oor my kop vlieg, terwyl hy boonop met sy een vlerk wuif. Dié vink het ’n houding.
Hy kom nie ingevlieg soos die ander wat statig op ’n tak land, die wêreld eers ’n bietjie uitkyk en dan tak vir tak na die saad spring nie.
Dié ou is soos ’n seun wat pa se motor vir die eerste keer leen. Hy pyl teen volle spoed op ’n tak af – gewoonlik die naaste aan die saad – en doen iets wat soos die uitrol van ’n vliegtuig of selfs aan ’n soort bollemakiesie herinner voordat hy in ’n stofwolk tot stilstand kom.
Dan kyk hy rond, blykbaar om te sien wie met die toertjie beïndruk is en dan verjaag hy almal voordat hy vreet – selfs groteres as hy.
Ek het begin wonder of hy ’n kapokhaan ook die stryd om kos sal aansê.
Dit is nie dat die vink hoef vrou te soek nie. Hy het een en tot my spyt moet ek erken dit lyk vir my na ’n wankelrige huwelik. Dit is waarskynlik die rede waarom hy die truuks net uithaal as sy nie by is nie.
Hierdie vink staan onder die pantoffelregering en sy mannewales het waarskynlik ten doel om die ander voëls van die teendeel te oortuig.
Gister was hy met nes nommer vier besig. Nadat ek sy vorige drie mislukte nesboupogings gesien het. Die tweede een was die swakste en ek kon verstaan dat die vrou nie in hom wou bly nie. Met die derde nes het ’n familie rooibye sy bure geword en dat sy vrou met sulke bure nie wou saamleef nie, is seker te verstane, veral wanneer ’n mens kinders moet grootmaak. Die derde was ’n heel verdienstelike poging en ek het namens die vinkmannetjie geglo dat die plek aanvaarbaar vir mevrou-vink sou wees. Hy het haar geroep en geraadpleeg en sy het tussenin geïnspekteer. Helaas.
’n Dag later lê ook dié pronkstuk op die grond en ek neem toe afskeid van die vink. Geen vlees en bloed kan drie huise vir dieselfde vrou bou en dan is sy steeds nie tevrede nie. Gister sien ek daar trek die ou weer los. Hy het die bouplek net sowat drie duim na die punt van dieselfde tak verskuif en teen gisteraand was die vordering fluks, maar ek sien klaar probleme met die vloer, want dit herinner sterk aan die eerste poging toe ’n mens plek-plek van onder tot bo teen die dak kon kyk. Die vink steur hom nie aan dié kleinigheid nie en gaan tekere asof hy klaar gebou het, maar sy vrou se kille reaksie op sy geroep oortuig dat ek reg is.
Nes nommer vier lê nou ook op die grond en die vinkmannetjie het nou tou opgegooi.
Soos die wedders in hul geel pakke wat tussen die Gross en Harlambus gependel het, wag die grote blykbaar ook vir hom om die draai.
My vink, my vriend! – 10 Januarie 1996

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie