No Image Caption

Groot dors krap diep

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Toe beweeg die afgelope week tot op die drumpel van die dood van geliefdes. En sommer ’n massagraf kon dit wees.

Maandagoggend met die uitkomslag is daar ’n smeking om water van sterflinge wat reeds swak geword het. Liefde kan gegee word, maar die dood kan nie weggestamp word nie.

Alles het die vorige Saterdag begin. ’n Sware werktuig het in sy lompe gang ’n waterpypleiding beskadig en Windhoek se spuitende watertoevoer tot ’n drup-straaltjie beperk. Waterrantsoene is sommer in nuusberigte afgekondig. Boetes is uitbasuin en patrollies is ingestel. Spietkops het oornag afstand gedoen van hul motorjagtery en in die nuwe gedaantes van waterfiskale verskyn.

Windhoek was (en is) dors.

Toe is daar die Maandagoggend langer deur ’n vaal tuin beweeg as wat die invaltyd normaalweg toelaat.

Sommer met die wegtrek het die sukkel-rosie gevrek. Duur spuitstof, bemestingstowwe met waarborge van welige groei en die chloor-water uit die stad se karige bronne kon nie die lewe behou nie.

Die swakste outjies was eerste daarmee heen.

Maar dis aanstap na die bolplant met sagte herinneringe. ’n Grootmaak-vrou het onder die drag van baie jare swaar gebuk en haar met ’n verroeste grafie uit ryk swart aarde gehaal. Van die ver plek is sy met grond en al na Windhoek gebring waar elke klontjie behou is vir die aanpassingsfase.

En kom die lente, word die eerste lelies uitgestoot.

Dit durf ek nie. Oorskietwatertjies van die koffieketel word in ’n kringetjie om plant gegiet. Al is die hou vir nog net ’n dag of twee. Dis soos ’n geneesheer wat na die bed van ’n terminaal-sieke ontbied word.

Twee struike herinner aan kanker gepaard met dors wat ’n stryd gewen het. Weke reeds word daar gesukkel teen die oormag van dorre westewinde wat soms sommer alkante toe waai. En tussen die stofwolke deur brand ’n son soos wat November nie aljaar ken nie. Maak jy hom vanoggend nat, is hy vanaand al weer droog.

“Dis mos oom Louw wat dié een vir ons gegee het,” word daar sommer met die swaarkry-goed gepraat.

Dis aanstap grasperk toe. Dis vaal en bar. Waar het nou weer die artikel verskyn oor die kunsperke wat sonder mis en water mooi en groen sal bly?

En met die aanstap lê die mooie Windhoek van weleer vaal in sy dors. Herinneringe kom op dat hierdie land sy elke druppel water vir mens en dier nodig het, dat daar nie geplant en gesaai mag word nie en dat elke waterbron bewaar moet word.

En wonder neem toe of Windhoekers heeltemal sonder ’n groenigheidjie in 'n tuin kan leef? Miskien ja, maar dan gaan iets in die mens sterf. – 25 November 1994

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer