Dieter Ian Maree
Dieter Ian Maree

Groot bome en lang skaduwees

Sê maar net
Dieter Ian Maree

So vertel hy my van die man wat almal in die distrik na verwys het as “Ou Grote” – sy pa. 

Ja-nee, sê hy, sy pa was definitief in ’n liga van sy eie en die bekwame “Jack of all trades”.  

Akademies het hy uitstekend presteer en op die sportveld het almal in spanning gewag op ’n toertjie wat asems laat wegslaan – soms letterlik!

Ma onder andere het ook haar plekkie in die plattelandse son gevind toe sy onweerstaanbare sjarme haar voete onder haar uitslaan.

Destyds was daar altyd ’n gehoor of dit nou by die kerkbasaar, boeredag of een of ander fees was. ’n Klap op die skouer, dawerende applous of ’n oogknip van ’n oujongnooi, het rigting aan sy bestaan gegee en hom daarvan oortuig dat vervaldatums net op toespassing van bederfbare kos en medisyne kan wees. 

In menigte gesprekke het hy homself as bemiddelaar, jurie, beoordelaar of protagonis aangestel met indrukwekkende stellings of teorieë oor boerdery, politiek, sport of hoe om kinders groot te maak (sonder die insig van ’n ma).

Soos die seisoene van die lewe onherroeplik plek maak vir roes en die jare aanbeweeg, raak moeder egter al stiller en die kinders se selfvertroue begin onbewus te verbrokkel onder ’n kunsmatige perfeksionisme wat akkuraat en doeltreffend mik na elke bietjie weerlose vreugde en spontaneïteit. 

“Wat kan so snaaks wees as hy nie die grappie vertel het nie. . . nog minder verstaan?” 

“En wat is dit met die gehoor in sy eie huis wat nie sy leiding, wysheid of opoffering waardeer nie,” – veral nou dat die “ou gehoor” nie meer so gereeld kom kuier nie. 

So word die ganse mensdom stadig en onwillekeurig oorgelewer en gewortel aan ’n skyn van voorspelbare sekuriteit en selfgedrewe groei wat die getroue sonstrale sagkens verdring – die tipe afhanklikheid en rolle wat mense gelate aanvaar terwyl die laaste weefsel van waardigheid met ’n lewelose, glinsterende staaldraad vervang word. 

”Ja, Ou Grote. . . die ouderling, die skoolhoof, die burgemeester, die onwrikbare, ikoniese reus van ’n politikus – vir jou volg ons tot in die afgrond waar niks meer groei behalwe die doodsheid in ons binneste.”

“Ja, Ou Grote, jou takke wat geen verligting of toevlug vir ’n moeë vlerk bied en jou koelte wat die son ook laat skrik en wonder of hy nog enigsins deel het aan dit”

“Ja-nee, Ou Grote, dit is dalk onder jou skaduwee wat die vrugte van G.K. Chesterton se verbeelding kon vertoef toe hy geskryf het “. . . there is a great man who makes every man feel small. But the real great man is the man who makes every man feel great.”

–Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer