Groei kom van Hom
Twee naweke gelede het ons vir Lisa laat doop.
Die familie uit Suid-Afrika het spesiaal vir die geleentheid gekom. Toe die dominee amper klaar met die seremonie was en die volgende lied aankondig, moes ons voor in die kerk bly staan en met die eerste note van daardie lied was ons almal onverwags in trane. Die besef het tot ons deurgedring dat ons die een mis wat vandag nie by ons is nie.
Ek sukkel eerlikwaar so ’n bietjie met die teenstrydige emosies so saam in my lyf. Vreugde oor die doop van ’n nuwe kind wat aan ons gegee is en hartseer oor die een wat ons verloor het. Maar so is die lewe seker, die lewe het geen agting vir hoe ons oor sekere dinge voel nie, dit is soms pleinweg brutaal en ander male sag.
Terwyl ek hier skryf, loop daar ’n mier oor die vloer en ek gryp hom vinnig. Ons seun het gister ’n baba-koggelmander gevang en probeer hom nou aanhou. Ons het gelees hulle eet graag miere, kewers en ander insekte. Die mier wriewel tussen my vingers soos ek hom na die koggelmander dra.
Die gedagte dat ek aandagafleibaar is – van die dooptema tot by miere vir koggelmanders – is niks nuuts vir my nie. Dit het egter my daaraan herinner dat ons mense oor die algemeen maklik en vinnig heen en weer deur die lewe self gewaai word. Soms probeer ons om dinge gedoen te kry en wanneer ons weer kyk, is ons heeltemal van koers af.
Ons pogings in die lewe en geloof is soms soos die miere wat teen die koggelmander se houer probeer uitklim. Op, op, op teen die plastiekhouer en dan gly ons en val terug grond toe.
Soms maak ons dit tot bo-op die rand van die houer, maar dan is daar weer die afklimslag wat net so baie uitdagings bied. Ek het die miere vir ’n rukkie dopgehou om te probeer sien hoe ons kan verseker dat die koggelmander se kos nie ontsnap voordat hy dit eet nie.
Ek moet wel die miere ’n bietjie krediet gee – hulle word nie so maklik van koers afgedwing nie. Hulle hou aan en aan en aan tot hulle hul doelwit bereik het. In hierdie geval is dit om te ontsnap.
Vir geloof om te groei en vorentoe te beweeg in ons lewens, het ons die Here of die Heilige Gees se insette nodig. Want ons pogings is dan hiernatoe en dan daarnatoe. Maar selde – soos die miere – in een aanhoudende rigting.
My geloofsmentor het vanoggend ’n Bybelvers gedeel uit 1 Korintiërs 3 verse 6 en 7. My vertaling lui so: “My werk was om die saad te plant. Apollos moes dit natgooi. Maar God het laat groei. Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei.”
Ek glo dat dit belangrik is dat indien ons graag in ons geloof wil groei, ons vir God daarvoor moet vra om ons te help om te groei. Dit is immers Hy wat ons na Hom toe aantrek.
As ons harte graag genoeg deel wil wees van sy groter plan, dan kan ons Hom vra om ons te help groei. Want dit is nie mense rondom ons wat ons laat groei nie en beslis ook nie onsself wat die geloof laat groei nie. Dis net Hy.
Hoop dit is ’n goeie week vir almal. Wiesie
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie