God is nie in jou selfoon nie
Jou selfoon se wekker lui, jy gryp na die helder verligte telefoon wat langs jou bed aan die laaier gekoppel is.
Voor jy jou kan kry, is jy besig om te kyk of daar enige boodskappe of e-posse bygekom het sedert jy gisteraand al jou kommunikasieplatforms deurgekyk het as jou laaste taak voor jy gaan slaap het. Jy sien niks nuuts nie.
Maar intussen het jy die bemarkings-e-pos van hierdie of daardie besigheid raakgesien, of LinkedIn het jou laat weet dat iemand wie jy ken op hierdie of daardie gereageer het en jou nuuskierigheid is geprikkel. Nou moet jy eers gaan kyk wat daar aangaan.
Klink dit dalk bekend? Jou dag het skaars begin en jy is al reeds in sosiale media en jou telefoon verstrengel. Dit is reeds welbekend dat hierdie toestelle, wat deesdae naas rekenaars ons lewens oorgeneem het, ontwerp is om jou aandag te behou.
Maar hier kom die skokkende nuus: God ding nie mee om ons aandag nie. Hy is nie “ontwerp” om jou aandag te behou nie. Hy vra vir jou hart en jou gewilligheid om ander dinge wat harder skree vir Hom neer te sit.
En ek hoor al die argument dat ’n mens die Bybel-toep (Afrikaanse woord vir ‘app’) op jou selfoon kan hê en toegang tot allerhande YouTube-video’s kan kry. YouTube-video’s is mensgemaak – en ’n filter waardeur Bybelse dinge oorgedra word. Dit is nie die Bybel nie. Die Bybel-toep op die selfoon, briljant. Totdat daar kennisgewings deurkom dat iemand vir jou iets op LinkedIn geskryf het of Facebook lig jou in dat jy so pas ’n nuwe vriendskapversoek gekry het en weg is jou aandag.
Om met God te probeer “connect” deur jou selfoon is vergelykbaar daarmee om in ’n groot vertrek vol mense ’n gesprek te probeer voer met ’n enkele gespreksmaat wat oorkant jou staan.
Julle kan mekaar hoor, maar dis moeilik weens die geraas en bekendes wat elke paar minute vir jou probeer hallo sê en jou gesprek onderbreek. Julle aandag word die hele tyd verdeel.
Om die Here te gaan opsoek in die outydse formaat van die Bybelboek, is vergelykbaar met die stil suising waarvan daar in die boek 1 Konings vers 19 vertel word waar God met Elia gepraat het.
God was nie in die sterk, harde wind nie, en ook nie in die aardbewing nie. Daar was ’n sagte suising en toe het Elia geweet God is daar en Hy het met hom gepraat.
In haar boek, How to break up with your phone, wys Kathryn Price skokkend hoe selfoonverslawing nie anders is as alkohol- of dwelmverslawing nie.
En God praat daarvan dat hy ’n jaloerse God is, wat geen afgode of ander gode duld nie – (ten minste is dit min of meer die Duitse bewoording wat ek as kind geleer het van die eerste gebod). Dus as ons ’n probleem met selfoonverslawing het, het ons indirek ook ’n God-probleem. . .
Met daardie positiewe brokkie nuus moet ek ongelukkig groet. Soos Maria Magdalena en die ander dissipels, is ons mense steeds geneig om na God en Jesus te soek waar Hy immers nie is nie – in selfone of die leë graf waaruit hy reeds opgestaan het.
Probeer miskien om hierdie Paasnaweek meer tyd saam met God deur te bring en nie op jou foon nie? Net ’n voorstel.
Met liefde, van Wiesie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie