Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

Gesprek oor uraan

Sê maar net
Marlise Izaaks

“Dinge wat nie sin maak nie. . . ons moet daarteen veg. En hierdie een maak nie sin nie.” 

Dit was die woorde van die veteran-geoloog dr. Roy Miller gedurende ’n inligtingsessie in 2022 oor die in situ-logingsmetode vir uraanontginning wat in Namibië se Omahekestreek beplan word. 

In daardie stadium het die gesprek met erns begin posvat. In verdere gesprekke met ander hidroloë en geoloë is die erns van die saak meer en meer bevestig. Die hoë gehalte-drinkwater van die Stampriet-waterdraer en wat besoedeling van hierdie waterdraer kan beteken. Die enigste waterbron vir mens, dier en plantegroei. Hoekom so ’n kans vat? Dit, terwyl ons nie kan sien wat onder die grond aan die gang is nie?

In gesprek met die prospekteerders op 1 September 2022 tydens ’n myntentoonstelling in Windhoek, het onthul hulle is seker van hul saak, want volgens hulle “sal geen besoedeling plaasvind gedurende die in situ-logingsmetode nie”. 

Die “oplossings” wat ingespuit word om die uraan te ontbind, is gelykstaande aan “rooiwyn” (hul direkte woorde). Dis eintlik ’n tipe suuroplossing wat gebruik word vir hierdie oefening om die uraan uit die aarde te kry. 

Volgens die Russe is die omgewing in Kazakstan waar die metode toegepas word, en hier in Stampriet en Leonardville, baie dieselfde. Ek kan beslis en met sekerheid sê, dit is geensins dieselfde nie. My eie oë het dit bevestig toe ek die omgewing besoek het. 

In Kazakstan waar uraan deur die in situ-logingsmetode gemyn word, lyk eerder nader aan die landskap van Swakopmund, waar net kamele, wat lank sonder ordentlike drinkwater regkom, kan oorleef. 

En dis dan ook al wat ons (’n groep joernaliste) vir kilometers ver gesien het, en natuurlik perde. Die plaaslike mense se stapelvleisdis. O, en ’n enkele paar maer beeste in ’n klein kamp, meer as ’n uur van die naaste in situ-uraanmyn af. 

Headspring Investments, die Namibiese filiaal van die Russiese maatskappy wat in situ-mynbou in Namibië wil toepas, het nou regeringsmagtiging ontvang om bykomende boorgate by sy voorgestelde Wings-uraanprojek naby Leonardville in die Omahekestreek te boor. 

Die magtiging volg op ’n onafhanklike tegniese oorsig deur die Internasionale Atoomenergie-agentskap, wat Namibië in Februarie vanjaar besoek het om potensiële grondwaterrisiko’s te bestudeer. 

En die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) het gevra boorwerk moet opgeskort word en dat die Atoomenergie-agentskap se verslag volledig aan die publiek bekend gemaak word, voordat enige chemiese inspuitings of loodstoetse voortgesit word. 

Wat tog reg is, want die onsekerheid oor die veiligheid van duisende mense en diere se drinkwater is steeds ’n groot bekommernis. 

Al wat ek weet is na ure se besoek en toer van die in situ-myn in Kazakstan, kon ons enkele vrae vra, maar sonder enige opnames. 

En ek onthou goed wat die mynboukundiges gesê het, dat hulle geen kommentaar op die Namibiese projek wil lewer nie, aangesien hulle nie met die omgewing vertroud is nie. 

En wie is nou meer vertroud as ons eie boeregemeenskap, geoloë en hidroloë wat studies in die Stampriet-waterdraer self uitgevoer het en sê dié water is van die hoogste gehalte waarmee nie gepeuter moet word nie?

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer