Ons taal
Ons taal

Geen wonder nie

Dr. Herman Beyer

Ek is nie iemand wat gereeld plasings op Facebook maak nie. Ek lewer ook nie baie kommentaar op ander mense se plasings nie, verál nie op dié van mense wat ek nie ken nie. 

Te oordeel aan hoe sommige sosialemediagebruikers kan aangaan as iemand van hulle verskil, dink ek my beleid is nie te sleg nie. Maar soms, dalk so een maal per jaar, kan ek nie help om op ’n plasing te reageer nie. Hierdie week is dit daardie een maal per jaar. Iemand onbekend aan my het ’n gediggie geplaas wat na bewering in Afrikaans én Engels gelees kan word omdat al die woorde daarin Afrikaanse én Engelse woorde is, en omdat sy dit eenvoudig net móés deel. Hier is twee reëltjies daaruit: “In my pen is wonder ink” en “My pen is my wonder mop”. Iemand anders reageer entoesiasties dat die gedig in haar klaskamer hang om die wonder van taal te illusteer. ’n Effense gemoedsbek*kking kom oor my. “Wonderink” en “wondermop” word in Afrikaans vas geskryf, nes “wonderwerk.” As ’n Afrikaansonderwyser dit nie weet nie. . . Maar ek dwaal af. 

Hoewel die res van die gediggie mooi werk, plaas ek my punt objektief, presies soos dit drie sinne gelede staan. Die reaksie: Jy kloof hare. Dis digterlike vryheid. Snaaks hoe mens skielik hare kloof as Afrikaans se spelling nie konformeer met dié van Engels nie. En laat my toe om in my laaste sinnetjie ook van digterlike vryheid gebruik te maak: Waarvan party nie mense hulle nie weet praat.


Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer