Wiesie Kotze
Wiesie Kotze

Gedeelde tyd

Wiesie sê maar net
Wiesie Kotzé
Ek het onlangs ‘n artikel gelees in die Rooi Rose-tydskrif van Desember 2025 oor hoe om Kerstyd in vrede te vier – op jou eie, met ander woorde, nie saam met jou hele familie nie.

Die introvert in my geniet so half die gedagte, maar wat my daaraan getref het was dat die verskillende persoonlike roetines en hoe die tyd bestee moet word die blaam gegee is vir hoekom daar maklik stres voorkom tydens sulke kuiers.

Ek spring ouder gewoonte rond na die volgende onderwerp. Nadat ons gesê is dat ons teen gistermiddag kan opvolg oor die internetinstallasie by ons huis wat sedert die groot storm laasweek nie meer werk nie, het ek intussen vanoggend ‘n oproep van die tegnikus gekry dat hy oppad is na ons huis toe oor 15 minute. Dit nadat ek reeds ‘n ander afspraak gemaak het vir vanoggend. Ek voel die frustrasie in my oor ’my tyd’ wat ek nou moet deel met hierdie mens, maar dit is die prys wat ‘n mens betaal indien jy ‘n werkende internetaansluiting wil hê. Net voordat ek na my afspraak moet vertrek skakel ek die man (wat intussen buite die eiendom iets gaan toets het) en vra net hoe lank nog. ‘Ten minste nog ‘n uur’, is die antwoord wat ek ontvang. Ek stel my afspraak uit in frustrasie.

Is ons grootste frustrasie nie maar tydens sulke groot familiekuiers dat ons skielik die beskikbare tyd moet deel met ander mense en hulle ander maniere nie? Dat dinge nie loop soos beplan nie want iemand draai lank rond voor die uitstappie kan plaasvind en dat dit dan later plaasvind as beplan? Daar is die vinniges en die stadiges en hulle moet almal saam dorp toe gaan om 10:00.

Oorgestimuleer, eintlik bietjie oormoeg, en ooropgewonde omdat daar prettige dinge gedoen word en dat deelneem daaraan soms meer opwindend is as daardie nodige middagslapie – want die bed in die vakansiehuis slaap nie soos jou eie nie.

2023 het ons so ‘n tipe vakansie gehad en aan die einde daarvan (voeg ‘n drie maande oue baba by die mengsel van almal saam bymekaar in ‘n Hentiesbaai-huis) het ek ontplof teenoor my familie van ingehoue frustrasie. Hoekom is dit so moeilik om in vrede as groot groep saam te kuier?

Ek glo in genoeg slaap sodat ‘n mens jouself kan wees. Ek glo daarin dat matige alkoholverbruik ‘n positiewe invloed op jou geestelike gesondheid het. En dat ‘n mens jouself steeds daarsonder kan geniet. Maar ja om uit jou daaglikse roetine te wees, ander slaappatrone as

gewoon te volg, ander kos te eet en met ander mense as elke dag te kuier, mense met ander opinies as jy – soms direk teenoorgestelde opinies, is maar sosiaal uitdagend op sy beste.

Die antwoord wat die artikel gebied het was om dan liewer Kersfees alleen te vier en ek glo dat as jy rus meer nodig het as familietyd, dan is dit seker die beste oplossing vir jou en jou familie. . . vra my ek weet.

Mag julle ‘n vredevolle Kerstyd deurbring, met of sonder julle families. Ons gesels weer in die nuwe jaar.

Met liefde, van Wiesie. – Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer