Gan bei! op die Jaar van die Perd
Die jaar van die slang het vroeër die maand weggeseil. Die sleepsels in die sand is vinnig vertrap deur groot hoewe, beslaan met die wense vir voorspoed en rykdom. Die jaar van die perd is met ons.
Dong Na, ’n goeie Chinese vriendin, het my genooi om die Nuwejaar saam met haar en haar familie te vier. Dit was die eerste keer dat ek, te midde van ’n intieme ruimte, ’n tradisionele gesinsfeesviering beleef het.
Ons stap by die woonstel in en dit is net potte kos. Ek ruik geurige knoffel, sprietuie en gebraaide vleis. Dong Na en haar gesin stel my aan die uitgebreide familie voor. Oupas, oumas, tannies, ’n nefie en sy swanger vrou.
Die oumas en oupas is druk besig in die kombuis. Ek wil help, maar Dong Na laat my mooi verstaan dat dit die ouer mense se plig is om gedurende hierdie feestyd die kos te maak en op te ruim. Die ouers en kinders moet rus en hulself geniet.
Ons speel dus kaart. Ek leer seker vyf verskillende kaartspeletjies. Ons dobbel met kunsgeld en ek wen darem so nou en dan. Tussen die kaartspeletjies, peusel ons aan vars aarbeie en sonneblomsade.
Die kos is reg! Borde en borde kos is op die tafel. Ek tel 15 verskillende disse. My gunstelingdisse is Ouma se frikkadelle en die soetsuur-varkribbetjie.
Een van die oupas haal die baijiu uit en begin vir ons skink. Dit is net ek, die besige Ouma en die skinkende Oupa wat baijiu drink. Gan bei! Dit is Chinees vir cheers of prost, en dit vertaal direk as “maak die glas droog”. So is dit een slukkie na die ander. Baijiu is verskriklik sterk; hierdie bevat 53% alkohol. Ouma gee vir my nog kos aan. Dan lig sy haar glasie: Gan bei!
Later sê ek vir Oupa dat hy eers bietjie moet terughou met die baijiu, want ek wil immers op my voete hulle huis verlaat. Ouma lyk teleurgesteld. Sy sê vir Dong Na dat sy dan nou juis wou kyk hoe baie ek kan drink.
“Ek wil nie môre goor voel nie, Ouma,” antwoord ek. Ek sien ’n fyn glimlag in Ouma se reaksie.
Na ete, trommeldik, begin ons weer speletjies speel. Deur die namiddag leer ek die fyner kuns van mahjong. Ek leer al vir ’n paar jaar mahjong, maar kry dit nooit 100% reg nie. Gelukkig is almal geduldig.
Soos die son begin sak, begin die oumas en oupas met die dumplings. Dit is tradisie in elke Chinese huishouding om dumplings met Oujaar te maak. Behalwe dat dit die familie saambring om een tafel, simboliseer dit ook voorspoed en geluk vir die komende jaar.
Die oorskietkos van die middagete word warm gemaak en voorgesit met varsgemaakde dumplings. Die fees duur voort en Ouma sit weer ’n glasie baijiu voor my neer. Gan bei! Almal lag. Ek hou baie van die bees-dumplings. Ek eet en eet, maar die borde word nie minder nie. Die weduwee se kruik produseer blykbaar baijiu ook. Gan bei! Ek kyk vir Ouma in die oë en ons drink die bottel op.
Om agtuur die aand word die televisie aangeskakel. Dit is die nasionale Nuwejaars-galakonsert wat elke jaar landswyd regstreeks uitgesaai word. Die konsert begin met robotte wat kung fu saam met kinders doen. Dit is baie indrukwekkend. Gedurende die konsert sing Lionel Richie en Jackie Chan ook ’n nommer saam.
Ek geniet elke oomblik van die vyf uur lange konsert. Die familie gesels tussendeur en net so voor middernag bring Dong Na vir my ’n stuk koek. 10, 9, 8…3, 2, 1, xīn nián kuài lè! Vreugde.
Terug by my huis hoor ek die runnik van die perd. Dit was ’n wonderlike ervaring om die jaar met huislikheid, gasvryheid en baie glasies baijiu te betree. Gan bei!
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie