Feestyd verskoningstyd
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers – Die jaar 1994 is feitlik verby en met die sluiting van die skole volgende week, is die meeste mense reeds besig met voorbereidings vir die groot uittog na vakansieoorde en veral die weskus van die land.
Dit is dan ook ’n tyd van jaareindfunksies, afskeidspartytjies, braaivleis en ander feestelikheid met die gevare wat daarmee gepaardgaan. Ek praat van daardie dop wat makliker vloei, en die man met die dop in hom wat makliker ongelukke maak.
Ek ken die meeste van Windhoek en die Namibiese polisie se verkeersmanne persoonlik en ek vind hulle glad nie ’n onaardige klomp nie. Met my was hulle nog altyd hoflik en vriendelik en ek glo dat hulle nog altyd hoflik en vriendelik teenoor enige ander lid van die publiek optree, maar ek gaan hulle glad nie kwalik neem as hulle gedurende die volgende maand of so maar so ’n bietjie nors en kwaai raak nie. Die groot taak om gedurende die feestyd die dood van die pad af te hou, rus op hulle skouers en dit is glad nie ’n maklike taak nie.
Hans Strydom vertel vir my dat Danie Jacobs en Koos van Zyl vanjaar in Windhoek ’n spesiale diens vir mense wat te diep in die bottel gekyk het, gaan aanbied.
Hulle gaan regdeur die vakansieseisoen bussies beskikbaar hê en enige dronkie kan hulle dan van enige plek af in die hoofstad bel, waar hulle hom sal gaan haal en met sy motor en al veilig by die huis besorg. Ek reken dit is ’n beter roep om liewer Danie en Koos se fooitjie te betaal, as om later ’n astronomiese bedrag geld aan borgtog by die polisieaanklagkantoor op te dok. Om van die boete wat in die landdroshof opgelê kan word nie eens te praat nie!
Nou sê die verkeersmanne vir my dat hulle ook glad nie meer verskonings gaan aanvaar nie. Dit gaan nie help om te sê jy het net een ou biertjie gedrink, of jy is op pad na ’n siek ouma se sterfbed toe nie. As jy nie bevoeg is om ’n voertuig te bestuur nie, is daar net een voorland vir jou: Windhoek se polisieselle, en ek verstaan dit is nie ’n baie lekker plek om die feestyd deur te bring nie.
So van verskonings gepraat. ’n Vriend van my in die verkeersafdeling vertel my van die kêrel wat hy van die pad getrek het, omdat die man vir hom besope voorgekom het. Toe die man uit sy motor klim, was hy so onvas op sy voete dat hy aan die voertuig moes vashou om regop te bly.
“Waar isj julle sjpietkops asj ’n mensj julle sjoek,” vra hy kamma verontwaardig.
“Ek ry al vir meer asj ’n uur lank die dorp plat op sjoek na julle om my huisjtoe te vat.”
Dit het werklik gebeur, maar ek glo nie daardie ou gaan dieselfde verskoning weer gebruik nie. Dit het nie gewerk nie. – 30 November 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie