Ek wil nie meer uniek wees nie
Ek het in my kort lewe al eienaardige dinge raakgelees, maar een van die eienaardigste was die Strauss-Howe-teorie.
William Strauss en Neil Howe verduidelik in hierdie teorie dat daar vier oertipes is wat mekaar in ’n siklus opvolg. Die gedrag van hierdie “tipes” vorm dan die sosiale, maatskaplike, politiese en ekonomiese gebeure gedurende ’n volle saekulum (’n rowwe aanduiding van hoe lank ’n persoon kan leef; ongeveer 80 tot 100 jaar).
Die eerste van Strauss en Howe se vier fases bestaan uit die hoogtepunt – die tyd wanneer alles goed gaan. Dink aan die sogenaamde “Roaring 20’s” in Amerika. Hierdie ikoniese era het gevolg op die verskynsel wat bekend staan as die “Panic of 1910” – toe nuwe wetgewing veroorsaak het dat die Amerikaanse ekonomie met ongeveer 26% getuimel het.
Hierdie kan as ’n voorbeeld dien van die Strauss-Howe-hoogtepunt – die “vet jare” wat ná ’n krisis of ’n ramp volg. In hierdie jare is indiviualisme glo skaars en juis daarom skop die volgende fase van die teorie af. As gevolg van ’ngebrek aan individualisme sal die persone in die volgende fase hard veg vir individualisme en groot instansies wat tydens die vorige fase hul sukses op die tropmentaliteit gebou het, word die hardste getref.
Die laaste fase van hierdie teorie is die krisis of ramp wat volgens Strauss en Howe gewoonlik ’n oorlog of maatskaplike rewolusie van aard is. Tydens hierdie fase word instansies hervorm en herstel hierdie ramp waardes van eenheid en gemeenskap voor die klok terugkeer na die hoogtepunt-era.
Hoewel daar omstredenheid oor hierdie teorie heers, het dit my laat dink – eerstens wonder ek hoe die groot verdeling van Gen Z hierdie siklus sou beïnvloed. Diegene wat generasies bestudeer (ja, dit is ’n regte studieveld en beroep) het jare gelede ’n skeuring in dié generasie waargeneem. Dit is glo die eerste generasieverdeling, dus weet hierdie kenners klaarblyklik nie nou wat om met hul hande te maak nie, want hul opgewondenheid het blykbaar die oorhand gekry.
Tweedens wonder ek in watter era ons nou eintlik is – ek kan met sekerheid sê hierdie is nie die “vet jare” nie, maar is ons nou nog besig om individualisme te soek of is ons al besig om instansies te hervorm?
Sal ek ooit die “vet jare” sien? Is daar ’n kortpad wat ons kan vat na dié jare? As ek vir mense my ouderdom sê: “Kom, kom kinders, kom ons speel saam sodat die ekonomie saam met ons kan speel”, sal hulle luister?
Ek dink nie die illusie van individualisme is dit werd nie. En in elk geval, as almal uniek is, is niemand werklik uniek nie. Ek dink as ons net maak of ons saamspeel, kan ons die ekonomie flous. Dalk besef ons dan dat ons ten spyte van ons verskille en individualisme tog die speelgrond saam kan geniet – maar ek debs die hoë swaai, ek sê maar net.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie