Adam Hartman
Adam Hartman

Ek weet nie en dis oukei

Sê maar net
Adam Hartman

Ek het al dikwels ouer mense hoor sê – veral dié met wysheid – dat hoe ouer hulle word, hoe minder weet hulle. Die een ding wat hulle wel weet, is dat hulle nie alles weet nie.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoeveel daar is om te weet, hoeveel ek wíl weet, en hoe min ek eintlik weet.

Toe ek ’n kind was, het die onderwyseres altyd gesê daar is nie so iets soos ’n dom vraag nie. Die juffrou of meneer was veronderstel om alles te weet en ons het hulle amper altyd geglo. Kinders is wonderlik. Hulle geloof is wonderlik.

Kinders vra: hoekom dit, hoekom dat, maar hoekom? Hulle wil weet waar hulle vandaan kom en wat hul lewens beteken. En ons, as ouers, wil al die antwoorde hê.

Dan is daar mans en vroue. Die vrou weet in elk geval alles en die man weet hy moet sê sy weet alles. Ek is baie lief vir my vrou, en ek weet sy weet alles. As sy dit lees, sal sy saamstem. Tong in die kies.

Dan kom die jare wanneer jy self dink jy weet alles, en niemand – nie jou ouers nie, nie jou onderwyser nie – kan vir jou iets sê nie.

Vroeër het ons kennis uit boeke en van ander mense gekom. Deesdae is dit die internet, YouTube, Facebook, Instagram en nou kunsmatige intelligensie (AI). En AI dink hy weet alles. Hy sê vir jou mooi jy is reg, en dan, ewe mooi, dat jy verkeerd en hy reg is. En dan dink jy sommer: ja, AI is reg.

Toe mense my die diep vrae begin vra, wou ek antwoorde gee. Hoe het die wêreld begin? Is daar lewe ná die dood? Het Jesus opgestaan? Is daar wonderwerke? Mense op ander planete? Is daar regtig so iets soos nul? Soms kan jy antwoord, maar wanneer die vrae ’n kruisondervraging word, raak dit moeilik.

Ek het op ’n punt gekom waar ek besef het dis oukei om te sê ek weet nie. Dis beter om nie te weet nie as om te jok, of oor iets te praat waarvan jy niks weet nie.

Soms wil ons met mense stry wat in hul vakgebiede opgelei is – dokters, wetenskaplikes, argeoloë – diegene wat tyd en energie bestee het om te weet wat hulle vandag weet en dit ook vir ander kan leer. 

Ons sê hulle weet niks nie, volg ’n bose agenda of jok. Net soos ons trots is op wat ons weet, mag hulle trots wees op hul kennis. Ons het hulle professionaliteit nodig en hulle ons s’n. Hoekom moet ons slimmer as hulle wees?

Hy wat dink hy weet alles, leer niks nie. Ofte wel, soos daardie wyse man gesê het: “Moenie wys wees in jou eie oë nie.”

Daar is diegene wat vra omdat hulle werklik op soek is na antwoorde en dié wat vra om jou verkeerd te bewys. Só ’n argument loop uit op siniese skeptisisme. 

Wie het God geskep? En wie het daardie God geskep? Die aarde is rond. Wie sê so? Satellietfoto's. Wie het dit geneem? Nasa. En wie sê Nasa praat die waarheid? 

As God goed is, waarom is daar lyding? Omdat die mens ’n vrye wil het. Hoekom het God hom dan ’n vrye wil gegee? En hoekom keer Hy nie as dinge verkeerd loop nie? Dit hou nooit op nie.

Ons weet nie alles nie. Ons was nie daar nie. Maar dit beteken nie dat dit nie waar is nie. Miskien moet ons net luister.

Is weet en glo twee verskillende dinge, of twee name vir dieselfde ding? Ek weet nie. Hebreërs 11:1 sê geloof is “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. 

As iets bewys kan word, is dit eintlik nie geloof nie. Maar as jy iets glo wat nie bewys kan word nie, lê daar diep kennis daaragter. Kennis, weet, geloof – dis ’n fyn lyn.

Ons moet duidelik wees oor wat ons soek en bereid wees om te luister. As iemand vir ons ’n antwoord gee waarvan ons nie hou nie, moet ons vra: Is dit omdat dit teen my beginsels indruis, of is dit iets waarby ek moet aanpas?

Kom ons hou op om voor te gee dat ons alwetend is, want ons is nie God nie. Kom ons wees nederig en wys genoeg om te sê: Ons weet nie alles nie.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 13:12: “Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ken, net soos ek geken is.”


[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer