annemarie
annemarie

Ek sê maar net: Harde werk vat jou verder as ’n filter

Annemarie du Toit
Annemarie du Toit - [email protected]

Ons leef in ’n tyd waar almal vinnige resultate wil hê. ’n TikTok-video van tien sekondes, ’n “side hustle” wat binne ’n week miljoene moet bring, en ’n generasie wat glo jy kan “manifest” sonder om te sweet. Maar hier’s die ding: geen hoeveelheid "affirmations" gaan jou bankrekening vul as jy nie bereid is om jou moue op te rol nie.

Ek hoor dikwels: “Ag, maar ek wil nie vir ’n baas werk nie, ek wil net my eie ding doen.” Dis mooi. Dis dapper. Maar selfs jou “eie ding” vra ure, nagte sonder slaap, en dae waar jy lus is om jou "laptop" uit die venster te gooi. Die waarheid is: jy kan nie jou pad “skip” na sukses nie. Jy kan dit net werk.

Harde werk en toewyding is nie oudmodies nie. Dit is tydloos. Dis wat jou vat van “ek wens” na “ek het bereik”. Dis wat maak dat jy nie net praat oor drome nie, maar dit in jou hande hou. Ek is jammer, maar daar is nie ’n kortpad nie. Elke suksesvolle storie wat jy bewonder, het ’n hoofstuk van sweet, mislukking en weer probeer.

Ons generasie (ja, ek kyk vir jou, Gen Z) hou van gemak. Van “instant noodles”-sukses. Maar die wêreld werk nie so nie. Jy kan nie ’n universiteitsgraad “download” nie. Jy kan nie jou karakter bou deur net te kla dat die stelsel onregverdig is nie. Ja, die wêreld ís onregverdig. Ja, party mense begin met meer as ander. Maar kla verander niks. Hard werk wél.

Dis nie "glamourous" nie. Dis nie altyd Instagram-waardig nie. Maar dit bou jou. Dit maak jou trots. En dit gee jou iets wat niemand kan steel nie: ’n lewe wat jy self opgebou het, met jou eie sweet en jou eie toewyding.

Ek sê maar net: moenie trap in die leuen dat jy sukses kan “skip” nie. Jy’s nie te goed vir hard werk nie. Niemand is nie. Jy’s eerder te slim om jou tyd te mors deur te wag vir iets wat nooit uit die lug gaan val nie.

Werk. Hou aan. Verbind jouself. Dis hoe jy piekke bereik. Nie met ’n filter nie, maar met jou volle, rou, werklike self.

Kommentaar

Republikein 2025-10-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer