Aldo Horn
Aldo Horn

Ek sê maar net

Nou wat maak ’n mens sonder troeteldiere?
Aldo Horn
Ná elf jaar het my hond, Guppie, stadig terug in ’n babatjie verander. Te danke aan die artritis kon hy nie meer op die bank of bed spring nie. Waggelend het hy deur die huis gestap en as hy opgewonde geraak het, struikel hy amper oor sy onvaste voete.

Ek moes hom gereeld buitentoe dra om sy besigheid te gaan doen anders het hy langs die pad ’n glipsie gehad – ’n probleem wat hy ’n dekade terug laas gehad het. En die enkele (lae) trap wat na buite lei was ’n riller wat hom ’n paar keer laat stof vreet het.

Boonop het die man ook vergeet waar hy is. As ek hom nie dopgehou het nie, kon ek hom later met sy kop in ’n donker hoekie van die huis gevind het waar hy net doodstil staan en direk na die muur staar.

Hoe nader ons aan die einde beweeg het, hoe meer het hy geslaap. Dis nie eers asof hy sy energie gespaar het vir iets nie; daar was net niks oor nie.

Behalwe op die laaste dag. Hy het nie een keer daardie dag stilgelê nie. Van ses uur die oggend tot baie laat die aand het hy met ’n spoed wat ek maande laas gesien het deur die huis gewoeker – asof hy angstig weghardloop van iets af. Tot ’n mate was hy seker besig om weg te hardloop, want die oomblik wat ek hom gedwing het om stil te sit, het die epileptiese aanvalle begin en eers ure later gestop toe die veearts hom gehelp het om sy laaste asem te neem.

As ’n komiese (of uiters tragiese) toeval was dié Maandag beide sy en die veearts se verjaarsdag.

My pa het ’n paar maande later vir my ’n baba Boston-terriërreuntjie gekoop. Sy naam is Potok (die uitspraak is soos die klinkers in “volop”). Ek was aanvanklik nie gereed om ’n nuwe hond groot te maak nie, maar hier sit die dingetjie voor my. Om hom terug te gee is nie meer ’n opsie nie.

Nou begin daai hele storie weer. Ek moet hom heeltyd optel aangesien hy nog te klein is om op die bank of op die bed te spring. En as hy opgewonde raak val hy oor sy onvaste voete.

Ek moet hom elke kort-kort buitentoe dra anders het hy ’n glipsie in die huis. En hy moet by die trap afgehelp word nadat hy ’n paar keer stof gevreet het.

Boonop kan ek nie my oë van hom afhaal nie of ek moet hom iewers in die hoeke van die huis gaan soek waar hy besig is om kwaad te doen.

Darem slaap hy amper heeldag – hy moet sy energie spaar om te kan groei.

Een dag het ek hom flink deur die huis sien hardloop en dit het my dadelik herinner aan Guppie se laaste dag, maar hierdie keer was dit nie angs of paniek nie, dit was nuuskierigheid en avontuurlus.

Ek besef dat ek elke nou en dan hierdie twee honde met mekaar vergelyk. Sodra ek dit begin doen, herinner ek myself dat die vergelykings moet stop by, “Hmm, hierdie twee honde doen dinge baie anders.” Ek moet net ’n nota van die verskille maak, anders begin ek wens Potok is in een of ander opsigte soos Guppie. Sodra ek dit doen, begin ek vergeet dat die nuwe hondjie nooit veronderstel was om ’n vervanging te wees nie – hy is ’n opvolger.

Nou wil my ma ook vir haarself ’n tefie kry sodat my hond ’n maatjie hê om mee te speel (iemand anders as die 15-jarige pug). Ek het natuurlik reeds die perfekte naam vir die hondjie gekry – Potok en... Patat.

Maar my ma steek nog vas. Sy is op soek na “’n mooi dogtertjienaam”. Sy mag nee sê, maar ons hoef nou nie te jok en sê dat Patat nie ’n mooi dogtertjienaam is nie.

Die paar maande sonder ’n troeteldier was ’n vreemde tyd in my lewe gewees. Ek weet troeteldiere is nie almal se ding nie, maar ek sien baie mense wat hulle honde, katte, voëls, perde, hanslammers, varke en wat ook al ’n mens hulself nog kan voorstel, net so bemin soos wat ek hierdie klein mannetjie van my liefhet. Ek kan myself nie ’n lewe sonder hulle indink nie. - Gasskrywer

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer