Wiesie Kotzu00E9
Wiesie Kotzu00E9

Ek is lief vir my kind

Sê maar net
Wiesie Kotzé

Die laaste koerant waarin een van my rubrieke gepubliseer is, het ek so pas op die eetkamertafel neergesit toe my vyfjarige seun na my kyk en die volgende opmerking maak: “Wat het jy hierdie keer in die koerant geskryf, Mamma? Seker – ‘Ek is lief vir my kind’.”

Dit was toevallig nie die tema van my vorige skrywe nie, maar dit het my laat wonder wat agter die opmerking steek en waar dit waarskynlik vandaan kom. Ons het soms ’n speletjie wat ons in die huis speel.

Ons seun sal vra: “Mamma, of Pappa, skryf asseblief vir my ietsie?” Notaboeke en om in notaboeke of op papier te skryf, is om een of ander rede ’n tema in ons huis. Dan sal ek of my man sommer enige lawwigheid skryf, maar meer gereeld word daar iets geskryf soos: “Pappa is lief vir seuntjie.” Dit was die naaste gevolgtrekking wat ek kon maak oor waar die opmerking vandaan kom.

Ons seun se algehele vertroue daarin dat dit is waaroor ek laaste in die koerant geskryf het, is vir my pragtig en het my laat besef dat ek oor baie onderwerpe al geskryf het, maar nog nie oor hoe lief ek my kind of my kinders het nie. Sy algehele vertroue en die wete dat ons vir hom lief is, het my laat dink dat dit is hoe ons ook oor God se liefde vir ons moet voel.

Ons moet so oortuig wees dat God ons liefhet en hy met al sy planne net die beste vir ons in gedagte het, dat daar geen ruimte vir enige alternatiewe gelaat word nie.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16, AFR53)

As dit net kopkennis is, gaan jou refleksreaksie nie wees dat watter plan God ook al het met die moeilike situasie waarin jy jou mag bevind, vir jou beswil bedoel is nie.

Jy gaan twyfel, jy gaan vrae vra en jy gaan bekommerd wees. Maar as jy vas glo dat God ’n plan het vir die situasie waarin jy jou bevind, maak nie saak hoe goed of hoe sleg nie, dan staan jy ’n kans om as ’n refleksreaksie te aanvaar dat die moeilike situasie beteken – ‘Ek is lief vir my kind’.

My kind, mag jy eendag hierdie stukkie lees – of ek nog met jou is of nie, en mag jy dan weet dat jou ma jou baie, baie liefhet.

Jy het die mooiste hart. Jy verstom my sommige dae met die gevolgtrekkings wat jy kan maak – jy toon insig in situasies wat ver bo jou jare strek.

Jy het intussen weer ’n sussie bygekry. Mag julle twee altyd maats wees en mag julle beide nooit daarin twyfel hoe lief ek en jul pa julle albei het nie.

As ons nooit vir mekaar sê dat ons mekaar liefhet nie, hoe moet die ander dit dan weet, onthou of glo? Mag jy en jou suster ook nooit twyfel in God se liefde vir julle nie, dit maak nie saak waardeur julle gaan nie. God se storie gaan altyd oor – “Ek is lief vir my kind”.

Liewe leser, of u klein of groot kinders het. Vyf jaar oud of 65, ek glo dit is belangrik dat ons vir ons kinders moet vertel dat ons lief vir hulle is.

As dit nie reeds iets is wat gereeld in julle familie gebeur nie, probeer dalk hierdie buitengewone ding en kyk watter impak dit moontlik kan hê. 

Alle eer aan die Vader vir sy eindelose liefde vir ons.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer