Adam Hartman
Adam Hartman

Ek het niks nodig nie

Sê maar net
Adam Hartman

Mense raak soms gefrustreerd met my wanneer ek saam “dorp toe gaan” of vir “inkopies”. 

Partykeer stap ek by ’n winkel in en kyk net rond, terwyl vroulief presies weet waarna sy soek en wat ons nodig het. 

Ander kere stap ek in en dadelik weer uit, met niks in my hande nie. Miskien melk en/of brood – dalk ’n pastei of ’n pakkie skyfies. Maar dis omtrent dit. Ek kort eintlik nooit iets nie.

Dit klink na ’n klein ding om oor te skryf, maar dit is nie – ek dink al lank daaroor. Soms wonder ek of ek na iets soek om te koop, maar alles waarna ek kyk, is meestal goed wat ek wil hê, nie goed wat ek nodig het nie. En boonop is die dinge wat ek wil hê, te duur.

Gewoonlik neem ek nie eens ’n trollie nie – dalk ’n mandjie. Maar meestal tel ek iets op en sit dit later net weer terug, omdat ek besef dat ek dit dalk nie regtig nodig het nie.

Ek het lank gelede vir myself gesê iets moet my aandag trek voordat ek werklik aandag daaraan gee – en dit optel. En dit gebeur selde. Klere, dalk. Maar ek dra ou klere.

Ek dink dan aan die Israeliete in die woestyn, wat elke oggend net genoeg manna vir daardie dag ontvang het. Diegene wat meer wou vat, het gevind dit hou nie tot die volgende dag nie. 

Hul klere het ook nie in 40 jaar verslyt nie. Oukei. . . miskien sal ek nou en dan die onderbroeke en sokkies met gate daarin moet vervang.

Ek het ’n paar maande gelede my eerste horlosie in seker 40 jaar gekoop. Ek het nie geweet waar om te begin nie, toe begin ek maar by Clicks. Hy het N$170 gekos.

Die horlosie het nie eens ’n naam nie. Hy het tussen ’n klomp ander naamloses gelê én hy was seker die goedkoopste een daar.

Die dame by die betaalpunt het my gewaarsku daardie een se battery hou nie lank nie, want die goed is te goedkoop. Snaaks genoeg het ek dit nog nie vervang nie. Hy dui die tyd aan – iets wat ek wel nodig het.

Daar is so baie advertensies oral waar ’n mens kyk en luister: Op radio, TV, webwerwe en selfs daar buite en binne. Alles en almal wil aan almal verkoop en hulle wil seker maak ek en jy dink dis absoluut noodsaaklik om daardie item te besit. Daar is soveel goed wat jy dalk wil hê. Partykeer raak ’n mens bekommerd omdat jy dit nie het nie. Loop ons iets mis?

By ons huis is verjaardae nie eintlik ’n probleem nie, want ons weet nie wat om vir mekaar te gee nie.

Kersfees is dieselfde, en Moedersdag en Vadersdag en Valentynsdag en ons troudag en Lentedag en Paasdag – elke dag is ’n dag om miskien vir iemand iets te gee, iets behalwe tyd en aandag. Ons besef ons het klaar alles. Dis al.

Ek moet eerlik wees. Dis nie waar dat ek niks nodig het nie. Ek het my vrou nodig; sy is die rede waarom ek nooit iets kortkom nie. Ek het my gesondheid nodig, en ek het dit al klaar vir ’n rukkie verloor. Ek het geld nodig wat ek nie het nie. Ek het tyd nodig. Dis net dat niks daarvan op ’n rak rondlê nie.

Ek gee my geld vir my vrou sodat sy kan koop wat sy wil hê, en dis nooit iets spoggerig nie. Sy koop net wat ons nodig het.

Die kinders was nog altyd die maklike deel, want vir hulle kon ’n mens iets gee. Maar albei is nou op universiteit en hulle besef dat behoefte belangriker is as om net iets te besit of te doen. En dis juis daar waar ek stilraak. Ons kan selfs die klein goedjies nie altyd bekostig nie. Tog word daar op soveel maniere vir hulle gesorg dat ek dit net as ’n wonderwerk kan beskryf. 

En as ek versorg bedoel, dan beteken dit daar is iemand wat sorg, en dit kan niemand anders as die Here wees nie.

Ek beskou dit nie as vanselfsprekend nie. Ek weet daar is mense in uiterste nood. En wanneer ek aan hulle dink, besef ek ek is nie – nie regtig nie.

Ek het al vir ’n parkeerplek gebid en dit gekry (wie het nie?), terwyl ’n gesin iewers anders in die wêreld bid dat hulle vandag iets kan eet, anders sterf hulle – en dit nog steeds nie kry nie. Is hulle behoefte dan nie oneindig groter as ons s’n nie? Hoekom kry ek ’n parkeerplek?

Ek het nie ’n netjiese antwoord daarop nie. Wat ek glo, is dat God nie partydig is nie en dat Hy met elke mens persoonlik en afsonderlik werk. 

Elkeen dra iets en dis nie altyd iets wat jy kan sien of aan kan vat nie. ’n Mens kan die twee nie vergelyk nie, net soos ek en jy en hulle op soveel maniere nie met mekaar vergelyk kan word nie.

Ek dink aan Hom wat gesê het Hy laat my (persoonlik) neerlê in groen weivelde, en dat ek (persoonlik) niks sal ontbreek nie.

Ek bid dieselfde vir jou.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer