Een voor die Maker van kleure
“Ja, broers en susters, my lewe was soos ’n kar wat in ’n ongeluk was, ma’ die Jirre het my gapanelbeat.”
Die pastoor vee sy voorkop af.
“Hie’s mense vandag wat elke Sondag die Woord hoor, ma’ hulle se verstane het hulle nog nie reggasit nie.”
Hy raak driftig.
“Djille moet djille se sak met die Jirre regmaak. Die tyd raak min. Djille moenie dink djille kan die sonné met Vim skoonskuur nie.”
’n Gewigtige stilte volg. ’n Suster spring regop. Haar blou kopdoek pas by die blouse, by die romp en by die skoene.
“Ek groet al die dierbares,” sê sy.
“Amen,” sê die gemeente van plaaswerkers, plaaswerkers se vrouens, plaaswerkers se kinders.
“Ek groet veral die dierbares wat vanoggend by ons is,” sê sy en die kopdoek knik in die rigting waar ons wit dierbares ons sit op ’n paar planke gekry het.
“En ek laat niemand uit nie. Al is ons groen of geel of pers, voor die Jirre is ons almal een.”
Effe onkant gevang het ons die Sondagoggend verbaas gestaan en kyk na die stroompie blomrokke, sykouse en kerkpakke wat met die veldpaadjie na die halfklaar saal aangestap kom. Elkeen met ’n Bybel in die een hand en ’n plastiekstoel in die ander.
En ons het verleë rondgestaan en na ons jeans en kortbroeke gekyk. Maar hul breë glimlagte het die warmte van die veld saam met hulle in die koelte van die saal ingebring. En ons was nie meer verleë nie.
“Ek prys die Jirre,” sê die dierbare met die blou kopdoek.”
“Ja, prys die Jirre,” beaam die gemeente.
“Hy het vir my sy kind gemaak.”
“Ja, prys die Jirre,” voeg die gemeente by.
“Maar oee, broers en susters, ek was eens op ’n tyd ’n helverdiende sondaar gewees.”
“Ja, prys die Jirre,” sê die broers en die susters.
“Ma, toe ontmoet ek die Jirre wat my vrygemaak het.”
“Ja, prys die Jirre!” Die gemeentetjie raak skoon uitbundig.
“Dit is my getuienis. As ons vriende ons vanoggend met ’n getuienis wil bemoedig, moet hulle vry voel om so te doen.” Die kopdoek draai in ons rigting.
Die vriende kyk na mekaar, na die vloer, na die gate in die halfklaar dak.
Maar die suster is vasbeslote. Sy verskuif haar kopdoek en sê: “Ons sal solank ’n lied sing terwyl ons vriende gereed maak.”
Die vriende wil nog ’n woord inkry oor dit nie nodig sal wees nie. Maar die gemeente val weg met “Daar is ’n Naam soos geen ander naam”. Daar word in drie stemme gesing. Ons sit roerloos en luister. Hul oë is toe. Hul hande is na bo gehef. Toe die laaste klank gesing is, is daar stilte.
Die vriende staan selfbewus op. Ons kyk na mekaar en wag totdat daar tot drie getel word of iets. Iemand moet net die regte toonhoogte insit. Ons sing nie in stemme nie. Maar die broers en susters het lankal geleer om nie met die oë te kyk nie en ook nie met die ore te hoor nie. Hulle sien en hoor met die hart.
Wanneer die pastoor die seën uitspreek, het drie uur ongesiens verbygeglip. Ons groet mekaar met die hand en hulle begin spontaan te sing.
Ek kyk op deur die gate van die dak na die blou van die lug waarheen ek weet hul lied op pad is. En weer terug na die swart hand wat my wit hand vashou. En weet dat die dierbares inderdaad almal een voor die Maker van kleure is. – 15 Oktober 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie