Adam Hartman
Adam Hartman

Een uit 8 000 000 000

Adam Hartman
So af en toe kuier ek en vroulief op ’n Saterdagaand by my skoonma en kyk ons saam na “Das 1% Quiz – Wie clever ist Deutschland?” op Duitse televisie.

Dis een van daardie slim speletjieprogramme waar “slimkoppe” die kans kry om 100 000 euro (amper N$2 miljoen) te wen, mits hulle al die vrae tot die einde reg kan beantwoord.

Honderd deelnemers neem deel aan ’n reeks vrae wat al hoe moeiliker word, gebaseer op logika en algemene kennis. Elke vraag is vooraf aan ’n verteenwoordigende steekproef van die Duitse bevolking gestel om te bepaal watter persentasie mense dit korrek kon beantwoord.

Die vrae begin eenvoudig – een wat 90% van die bevolking reg kan beantwoord – en word dan in stappe van 5% moeiliker, tot die laaste vraag wat net 1% van die bevolking reg kon beantwoord.

As ’n deelnemer ’n vraag verkeerd beantwoord, val hy of sy uit, en die oorblywende deelnemers speel verder totdat slegs een of ’n paar wenners oorbly. Die finale 1%-vraag bepaal wie die prys wen.

Dis amper soos die gewilde “Who Wants to Be a Millionaire?”, waar mense voor die televisie kan saamgesels en hul eie slimheid toets. Selfs al word hulle nie formeel uitgeskakel nie, kan hulle óf trots voel oor hoe “slim” hulle is, óf skaam wees oor hoe “dom” hulle is.

Of, as ons dit nou meer “huishoudelik” wil hou vir diegene wat nie televisie kyk nie, kan ’n mens dit vergelyk met die bordspeletjie Trivial Pursuit. Alhoewel “Das 1% Quiz” meer soos ’n IK-toets as blote algemene kennis is. Maar die eintlike punt is – dis lekker om dit saam met vroulief en skoonma te kyk, en natuurlik om so bietjie te spog oor hoe slim (ek) is. . .

Die program begin, en daar is 100 deelnemers – ’n potspelmengsel van mense: agtienjariges wat pas skool klaargemaak het en nog nie weet wat hulle met hul lewens wil doen nie; huisvroue, onderwysers, nutsmanne, prokureurs, dokters, professore, sielkundiges, straatveërs, en afgetredenes.

Almal speel saam om daardie groot prysgeld te wen. Selfs ons by die huis speel saam, al wen ons die geld net in ons verbeelding!

Ek dink natuurlik altyd ek is slim en party deelnemers lyk en klink ook baie slim met indrukwekkende kwalifikasies en beroepe wat by ’n “slimkop” pas. Ander weer? Wel, hulle is dalk te jonk, of het nie juis ’n akademiese agtergrond nie en ’n mens sou nie verwag dat hulle ver in die speletjie sou kom nie.

Maar dan gebeur iets interessants. Soos die vrae al hoe moeiliker raak, val sommige van die “slimkoppe” uit by vrae wat die meeste mense in Duitsland behoort te ken.

En dan is daar die deelnemers wat ’n mens sou dink vinnig uitgeskakel sou word, maar hulle antwoord die “moeilike slimkop”-vrae sonder moeite! En dit boonop sonder jokers!

Teen die einde, wanneer die 10%-, 5%- en uiteindelik die 1%-vraag verskyn – daardie vrae wat net ’n klein minderheid mense regkry – is dit nie noodwendig die “tradisionele” slimkoppe wat oorbly nie.

Dis doodgewone mense wat dalk deur sommige as “nie so slim” beskou word, maar wat skielik die finale vraag reg beantwoord!

En ek? Ek het natuurlik al amper aan die begin van die speletjie uitgeval. Maar ek hou vol dis omdat ek nie Duits is nie, so ek verstaan nie altyd die vrae mooi nie. (“Nur ein bisschen” – dis my verskoning!)

En toe besef ek iets belangriks. Daardie gesegde “Never judge a book by its cover”.

Ons wêreld is vol mense. Google sê ons planeet se bevolking is reeds meer as 8 000 000 000 (dis baie nulle!).

Maar net ’n klein persentasie van daardie mense het voorregte, geleenthede en toegang tot hulpbronne – diegene wat die luukse het om slim te lyk en uit te blink in ’n IK-toets op TV, of net om in die gemak van hul huise na so ’n program te kyk, net vir die pret daarvan.

Wat ek nou gaan sê mag dalk dom klink vir baie slimkoppe maar dis reg. Ek is nie ’n slimkop nie. Tog, as ek mooi dink, glo ek daar is nie ’n enkele dom mens op aarde nie.

Elke mens op hierdie planeet is na God se beeld en gelykenis geskape. Nie noodwendig fisiek nie, maar ons het almal ’n wonderlike siel en unieke eienskappe wat presies pas by die lewe wat ons moet leef, mits ons dit doen volgens hoe Hy sou wil hê ons moet lewe.

Ek is oortuig dat elkeen op sy eie manier slim is. Almal weet iets wat ander nie weet nie. Almal kan iets doen wat ander nie kan doen nie. Dis soos ’n legkaart – elke stuk is perfek in sy plek.

Speletjies soos “Das 1% Quiz” is net speletjies; om mense besig te hou en geld as ’n wortel te gebruik. Nege-en-negentig persent van mense weet nie eens dat dit bestaan nie.

Hulle weet ook seker nie eers of hulle “slim” of “dom” is nie, maar as hulle die 1% kyk, dan sal hulle dink dis hoe almal moet wees. Maar eintlik is elkeen besig om hul eie plek in die legkaart van die lewe te vul, en dáár, op daardie plek, is elkeen van ons die enigste een wat 100% ’n slimkop is – elkeen van ons is 1 uit 8 000 000 000.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer