Des Erasmus
Des Erasmus

Droë belofte vol lewe

SMN 30 jaar gelede
Die belofte leef! Dinsdagoggend staan die appelkoosboom in blom. Woensdagoggend roep die Waarheid hier op sy voorblad uit: Droë Ugab lewe.

In die proses oorwin Sakkie se geloof. Hy’t mos ’n opdrag volstrek geweier om met die byl te kap wat aan die wortel van die appelkoos gelê het. Byna pleitend: “Gee hom nog net ’n bietjie kans.”

En so amper binne sinsverband met die reënboog wat Dinsdagmiddag al twyfelend in die ooste kom hang het, staat die opskrif daar dat die Ugab ’n bruisende watermassa woestyn toe (en dalk see toe) is. Sommer strome in die Dorsland.

En ek wonder of dit nie dalk ’n rekord vir September is nie. Sit mos annerdag daar op “die vlakte waar mense moed verloor”. En wonner of die rekenaar met Björn se doemprofesieë gevoer moet word om minuut, dag, datum en jaar te bepaal wanneer Windhoekers oor die dae gaan gesels toe die stad se mense nog ’n vingerhoed vol water gehad het. Sou die eerste voorspelling maklik wees, kan dieselfde rekenaar vir poeding sommer vertel hoe lank die einste Björn nog as “Bürgermeister” die sagte kussing onder sy stêre gaan voel.

Die belofte leef iewers tussen twee uiterstes wat Oerie en Gieljam uitgespel het terwyl James ’n stompie dieper die vuur ingedruk het. Oerie sê hy kan nie glo dat dit nooit weer gaan reën nie. Eendag gaan weer so ’n ietsie val. Gieljam kom soek toe weer nou die aand ná die Khorixas-buitjie planke en sparre en draad. Sê hy, as dit met Noag gebeur het, kan dit ook met hom gebeur. Daai hamerslae in die Eros-vallei is syne waar hy ’n kontrepsie aanmekaar timmer vir die uur wanneer die vloed teen sy agterdeur en dan hoër gaan stoot. En ek wonner hoe gaan ek al drie my honne (al drie het ’n laaisens) op ou Giel se “way out” kry.

James sê sy oom was goed in wetenskap. Daarom weet hy waarvan hy praat. El Niño, volgens hom die broer van E.L.Lende, het die wyk geneem. Dit maak die seewater se temperatuur weer wat dit moet wees en stuur onse droogtes by die agterdeur uit. Hy steur hom aan die osoonlaag met gelyke minagting as aan die volstruisnes wat vol of leeg is en dan kwansuis ’n aanduiding is van of dit ’n reën- of ’n maer jaar gaan wees. Hy’t nog nie agtergekom of die son warmer brand vandat die osoon oor die noordpoolstreke elke dag so ’n tien persent dunner word nie. Amper soos my beursie. Sy rumatiekpyne beskou hy as die loon op sy lewe, nie as ’n eina-gerug van reën nie.

Maar hy dink dit behoort ’n reënjaar te wees, omdat daar sedert die dae van Duitswes ook die soort seëninge was. Juis sy wetenskaplike oom het gesê wanneer ’n grafiek sy opte wys, moet jy pas op vir sy afte wat gaan kom. Of andersom. Of so iets. Hy sê ook dat hy nou taamlik dik vir aftes is. Terug by die boom in blom. Praat nie, moan nie, maak net. Hy’s laat lê om te vrek, maar kom wys toe vir ons mense waar ’n wil is, is ’n blom. En die reënboog kom trek ’n sirkel om sy vertroue. Hoor nie meer vir Jeremia, Jeremia en Jeremia om my ore nie. Dink net aan ’n springbokram wat weer al pronkend deur die blinkhaar oor ’n koppie wip. Die Namib gaan weer so in sy “glory” staan. – 22 September 1995

Kommentaar

Republikein 2025-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer