Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Draakbote en rysdumplings

Sê maar net
Gerhardus van Grootfontein

Gerhardus van Grootfontein – Die afwagting hang dik in die lug. Mense het van vroegoggend ’n staanplekkie langs die kanaal gekry om die resies te aanskou. 

Van hulle het sommer met kampstoele opgedaag. Die verkeersdepartement het sekere strate afgeskort en voetgangers geniet meer voordele as gewoonlik. Dit is die jaarlikse Draakbootfees, een van die vier groot tradisionele feeste in China. 

Die Draakbootfees het twee hoofkenmerke: Die bootresies (op bote wat lyk soos drake) en taai driehoekige rysdumplings, bekend as Zongzi.

Die bootresies is nogals opwindend om te besigtig. Lang bote word met twee rye roeiers gevul. Aan die voorpunt van die boot is daar die drommer wat die ritme en spoed van die roei-aksie bepaal. 

Dit word in ’n tweeslagtempo aangegee. Op een, moet die roeiers se spane die water tref en op twee moet die spane uit die water gelig word. Hierdie sirkulêre beweging moet eenstemmig tussen al die roeiers gebeur en dit bepaal die spoed van die boot. Die draakboot kry ’n lewe van sy eie soos hy ’n v-brander deur die water sny. Ondersteuners gil van die kantlyn vir hul spanne: “Jia you! Jia you!” Hierdie jaar het my span heel laaste gekom, maar dit was vet pret!

Gedurende die week van afwagting en vreugde, eet mense verskeie tipes Zongzi. Die standaard vorm is taai rys wat in bamboesblare toegedraai word, maar die vulsels binne die rys verskil. ’n Geliefkoosde soutvulsel onder mense is vleis met gesoute eendeiergeel. Die soetweergawe is ’n dadelvulsel en hierdie Zongzi word met ’n bietjie suiker geniet. 

Zongzi kan as ’n peuselhappie geniet word, of dit kan die hoofdis by ’n familie-ete wees. Persoonlik is ek nie té entoesiasties oor Zongzi nie. Ek raak nogals vinnig uitgeëet aan hierdie feeskos. Om dus ’n jaar te wag voor ek dit weer geniet, werk nogals vir my.

Nietemin, sorg ek dat ek elke jaar ’n Zongzi of twee eet weens die kulturele erfenis daarvan. Die oorsprong van Zongzi dateer terug na 340-278 v.C., en word spesifiek aan ’n man met die naam Qu Yuan gekoppel. 

Qu Yuan was ’n geliefde politikus en digter onder die Jan Alleman van sy tyd. Hy het daarna gestreef om die welstand van die gewone mens te bevorder en sy land teen vyande te beskerm. Sy idees het nie die goedkeuring van gierige hofbeamptes weggedra nie en dus is hy in ballingskap weggestuur. 

Die gierigheid van die staat het die land kwesbaar vir indringers gemaak en so het die ryk tot ’n val gekom. Toe Qu Yuan hierdie nuus hoor, was hy oorweldig met hartseer en verlies. Hy het homself in die Miluorivier gegooi en verdrink. 

Die dorpsmense het met hulle bootjies gejaag om hom te red, maar Qu Yuan was nêrens te vinde nie. Hulle het oral na hom gesoek. Om te keer dat die visse Qu Yuan se liggaam eet, het die mense rys in bamboesblare toegedraai en vir die visse gegooi. Die digter-staatsman se lyk is nooit gekry nie. 

Vandag, meer as 2000 jaar later, vier mense steeds die lewe en die beginsels van Qu Yuan deur met bote resies te jaag en rys in bamboes toe te draai. 

Die Draakbootfees verteenwoordig eenheid onder mense en samewerking vir vooruitgang. Jou boot is immers net so vinnig soos jou spanwerk. . . en, die krag van ’n staat lê in hoe dit sy mense dra.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer