Diegene wat ons miskyk
Die hof is ’n baie streng plek. As ’n hofverslaggewer is jy talle kere ’n getuie as streng woorde aan van die hoogste regsgeleerdes in die land gerig word. Toe ek twee kollegas in die hof uitvra oor wat ek juis in dié rubriek mag sê, het dit net daar in die hof ontaard in ’n geskerts en gelag.
Ek is later rooi in die gesig terwyl dié twee my sit en koggel. Een kollega gaan so ver om my notaboek en pen te vat en ’n paar woorde oor die ekonomie te begin skryf en in daardie oomblik was ek dankbaar.
Dit het amper gevoel soos daardie oomblikke wanneer jy om ’n tafel sit en skaterlag saam met ’n groep vriendinne wanneer jy besef hoe dankbaar jy vir jou lewe is. Ek besef toe dat hierdie mense net so belangrik is soos die belangrikste mense in my lewe. Hulle is van Maandag tot Vrydag my mense en sonder hulle sou die eentonigheid van sommige hofsake my waarskynlik lankal gek gemaak het.
Dis ’n eeueoue filosofie, maar weer eens besef ek die neiging om na die groter dinge te kyk wat ver van jou is, veroorsaak dat ons die klein dinge reg onder ons neuse miskyk. Hierdie oomblik kan maklik nie raakgesien word vir die vreugde en vrede wat dit my gebring het nie, juis omdat dit ’n “tussenin”-oomblik is. ’n Oomblik waarin ek gesit en wag het vir die lewe om te gebeur.
Ek dink dalk is die mooiheid van die lewe die stil oomblikke waarin jy wag – iets soos die gesegde oor die reis wat belangriker as die bestemming is. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nog nooit ’n geleentheid soveel geniet soos die beplanning van die geleentheid nie.
Dalk het my generasie verdwaal tussen al die moontlikhede wat ons in die palm van ons hand vashou. Hoewel Instagram en YouTube baie waarde tot ons lewens voeg, dink ek ons is van die waardering van tussenin-oomblikke ontneem. Die oomblikke wat jy nie gaan kry as jy dit in ’n skerm gaan soek nie.
Menslikheid op die internet voel vir my afgewater. 'n Meisie deel onlangs 'n video van 'n oomblik waarin sy gesukkel het om haarself en haar lyf te aanvaar. My eerste instink was om te kyk vir tekens van 'n leuen, want sy kan net een rede hê om dit te deel – aandag. Haar menslikheid was suiwer in daardie oomblik en jy kon sien die arme siel worstel, maar my menslikheid is afgewater deur die konstante soeke na aandag en ek kon haar stryd en haar boodskap nie ten volle waardeer nie.
Ek glo dit is wat tussenin-oomblikke ons leer – jy hoef nie permanent jou brein in dopamien en serotonien te week om goeie tye te geniet nie. Inteendeel, stomp dit jou dalk op die lange duur af.
In 'n wêreld vol verdowende selfoondeuntjies en verblindende ligte, is die sagte oomblikke met dié wat jy soms miskyk dalk die mooiste.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie