Die Wêreldhof se uitspraak oor SWA in oënskou ná 60 jaar (Deel 2)
DR. RIAAN EKSTEEN (Ph.D.) SKRYF:
Daarteenoor het sy minister van verdediging, PW Botha, ’n meer aggressiewe benadering met militêre magsingryping in Angola (teen Swapo) voorgestaan wat later tot verskeie veldslae gelei het waarby die MPLA van Angola, Kuba en die Sowjetunie betrokke geraak het.
Die militêre optrede teen ’n Swapo-kamp by Cassinga op 4 Mei 1978 – skaars drie weke nadat SA die Westerse voorstel aanvaar het wat later die grondslag vir resolusie 435 van die Veiligheidraad sou vorm vir die onafhanklikheidswording van Namibië – het daardie voorstel byna verongeluk.
Die datum waarop die Cassinga-inval plaasgevind het, is vandag steeds ’n amptelike vakansiedag. Hierdie gebeurtenis het ’n reeks debatte in die Veiligheidsraad ingelui. Ek het vervolgens die Raad op 29 Augustus 1981 toegespreek oor SA se aanvalle op Swapo op Angolese grondgebied.
Aksies by die VN teen SA oor SWA was nie net tot die Veiligheidsraad beperk nie. Inteendeel. In die Algemene Vergadering is die kwessie jaarliks bespreek. Die antagonisme teenoor SA was openlik, soveel so dat ek by drie afsonderlike geleenthede gelas is om die sittings te verlaat nadat voorstelle van die Afrika-groep aanvaar is om SA se geloofsbriewe te verwerp.
Aan al hierdie debatte het Swapo aktief deelgeneem aangesien die Algemene Vergadering reeds die party as die enigste en ware verteenwoordiger van die mense van SWA erken het. Swapo is ook waarnemerstatus by die VN toegeken en teenwoordigers kon vrylik aan alle debatte deelneem, maar het nie enige stemreg gehad nie.
Die permanente verteenwoordiger van Swapo was Theo-Ben Gurirab. In President Nujoma se eerste kabinet is hy as minister van buitelandse sake aangestel. Tydens my termyn as SA se eerste ambassadeur in Windhoek was dit ’n plesier om saam met hom te werk in ’n heeltemal ander atmosfeer as wat ons in New York beleef het. ’n Besonderse vriendskap het tussen ons oor die daaropvolgende drie dekades ontstaan.
Bykomend tot hierdie verskillende fronte teen SA in die VN-familie was daar ook die Raad vir Namibië wat voortgevloei het uit die ongeldigverklaring van die mandaat in 1967. In 1968 het hierdie Raad “Namibië” as amptelike benaming vir SWA verklaar.
Aan die hoof was Sean MacBride as die eerste Kommissaris vir Namibië. Sy opvolger was Martti Ahtisaari, wat in 1978 deur die Veiligheidsraad aangewys is as die sekretaris-generaal van die VN se spesiale verteenwoordiger vir die implemetering van resolusie 435. As ambassadeur by die VN het ek hom en sy verkenningspanne vir twee van hul besoeke aan Namibië vergesel.
Benewens hierdie Raad is ’n “Instituut vir Namibië” geskep wat in Lusaka gesetel was. Die eerste direkteur was Hage Geingob. Hy is in 1972 as ’n politieke skakelbeampte by die Raad van Namibië aangestel. By die instituut wat gestig is om Namibiërs in te lig en op te lei ter voorbereiding vir onafhanklikheid het sy opleiding as onderwyser hom goed te pas gekom.
Tydens my dienstermyn in Windhoek was hy eerste minister; later ook minister van handel en nywerheid, en uiteindelik Namibië se derde president. Ons het gedurende al sy ampstermyne ’n goeie verstandhouding gehad.
Tydens my 27-jaar-diens by die departement van buitelandse sake was ek vir 17 daarvan voltyds betrokke by die implementering en uitvoering van SA se beleid met betrekking tot Namibië. Dit was my beskore om die uitvoering van die beleid onder Verwoerd, Vorster, PW Botha (as eerste ministers), en daarna ook onder PW Botha en FW de Klerk (as presidente) van naderby te beleef. Laasgenoemde het my as ambassadeur in Namibië aangestel.
Onder De Klerk was die inisiatief wat die Reagan-administrasie onder leiding van Chester Crocker in 1981 begin het, suksesvol om resolusie 435 in 1989 geïmplementeer te kry. Die hoogtepunte van my betrokkenheid in Namibië was sonder twyfel die eerste drie jaar, toe ek deel was van die proses om daardie inisiatief te bevorder en op koers te kry en te hou. Dan natuurlik die verbintenisse wat tussen my en die leiers van Namibië ontstaan het – van vurige opponente tot hegte vriende! – Einde
* Dr. Eksteen se 27 jaar in Buitelandse Sake het onder meer ’n dienstermyn in Washington ingesluit asook ambassadeursposte by die VN in New York en Genève terwyl hy in ses lande as ambassadeur gedien het, insluitend Namibië as SA se eerste ambassadeur na onafhanklikheid. Tans is hy ’n navorsingsgenoot verbonde aan twee universiteite in Suid-Afrika. Joernale in Suid-Afrika en internasionaal het reeds 30 van sy artikels geplaas. Hy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy memoir, Beyond Diplomacy, is in Oktober 2022 gepubliseer.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie