Ons taal
Ons taal

Die waarheid volgens die vyfde evangelie van mickey mouse

Annika van der Linde

O koud is die windjie en skraal/ en blink in die doflig en kaal, so wyd as die Heer se genade lê die velde in sterlig en skade/ en hoog in die rande, versprei die brande. . .

“Winternag” deur Eugene Marais was sentraal tot Gustaf Preller se pleidooi vir Afrikaans as taal in eie reg. Die gedig se liriese krag word steeds, 120 jaar later, waardeer. Vandag kry die gedig, wat eens die verwoestende impak van die Anglo-Boereoorlog beskryf het, nuwe betekenis teen die agtergrond van oorloë in Oekraïne, Gasa en Iran.

’n Rilling wriemel teen my ruggraat af, want die vraag wat op almal se tonge huiwer gooi ook bangmaak skaduwees in my agterkop: staan ons op die rand van ’n apokaliptiese Derde Wêreldoorlog? 

Literatuur hou die vinger op die pols van wêreldgebeure, diagnoseer hoë bloeddruk en waarsku teen hartaanvalle. Al te dikwels strek daardie letterkundige vingepunte ver uit die verlede om aan die hede te raak en ons gryp daarna op soek na antwoorde. Dit is nie toeval dat daar ’n beduidende toename in verkope van en verwysings na beide Orwell en Atwood se seminale boeke (Animal Farm, 1984 en The Handmaid’s Tale) is gedurende Trump se presidentstermyne nie. Dat ek, op soek na poëtiese lig op die hede, met die eerste oopblaai van ’n kanonieke Afrikaanse bloemlesing juis op hierdie gedig deur Clinton du Plessis afkom, kan kwalik blote toeval wees. Wat ’n spieël op die hede is dit nie, dis net ’n kwessie van substitusie:


animal farm 

die dekreet is uitgevaardig: in triplikaat versprei – 

in die vrye volksrepubliek

gaan almal voortaan

donkergebril

blanko blaai 

in die koerant lees

doofstom luister na die nuus:

dat die son skyn

dat daar sewe dae in die week is 

dat heldedade nog dikwels voorkom in suid-angola [of iran] en mamelodi [of ice-aanhoudingsentrums]

voortaan verkondig slegs die minister [of donald trump]

die waarheid volgens die vyfde evangelie

van mickey mouse


Een ding is seker, die geskiedenis herhaal homself, die hede is bloot ’n substitusie van name. Maar met elke herhaling kom ons telkens ’n treetjie nader aan die distopiese werklikheid wat dié literêre werke veronderstel (voorspel?) het.


Annika van der Linde

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer