Die waarde van vriendskap
’n Vriendin bel my nou die dag uit die vreemde en sê dat ons vriendskap vir haar baie beteken al is die afstand tussen ons groot en sien ons mekaar min. Ek het die hele dag met ’n glimlag rondgeloop.
’n Ander vriendin van my neem haar slapenstyd baie ernstig op. Sy het baie ander talente, maar ek dink slaap is wat sy die beste doen. En tog, as ek haar eenuur in die oggend sou skakel en sê dat ek ’n oor soek om te luister sal sy kom. Dalk in haar pajamas, maar sy sal daar wees. En wanneer ons tot ounag gesels, plat op die grond met bekers tee, kom ek agter sy is ook ’n goeie luisteraar. En doen dit dalk nog beter as slaap.
Ek het ’n vriend gehad wat saam met my kon lag vir dinge wat niemand anders snaaks gevind het nie. Die pad wat ons gestap het was 15 jaar lank. Maar hy was ook iemand wat makliker mure as brûe gebou het en êrens het ons paaie verskillende koerse begin kry. Op ’n dag het ons agtergekom dat ons nie meer saam lag nie. Ek mis soms die lawwe oomblikke saam met hom en wonder of hy ooit nog daaraan dink.
My krulkop-vriendinnetjie is op ’n reis oorsee. Ons het saam grootgeword en so baie dinge saam gedoen. Ek beny haar so ’n bietjie, maar sy weet dit. Daarom stuur sy gereed poskaarte, sodat ek Europa op dié manier saam met haar kan beleef. En ek waardeer dit dat sy ons saamdoen probeer behou.
’n Ander vriend van my is sy hele lewe lank al op ’n reis. Sy soektog neem hom op ver paaie, maar elke keer kom hy terug met leë hande en soms met ’n gebroke hart. Ek wens ek kon raad vir hom gee, maar hoe help jy iemand wat van leegheid probeer vlug wanneer die leegheid binne-in hom is?
In iemand wat ek jare lank net op ’n afstand geken het, het ek onlangs ’n innige vriendin ontdek. Sy kan haar gevoelens beter in musiek uitdruk as wat ek met woorde op papier kan doen en ek kan ure lank na haar luister. ’n Ander nabymens het onlangs besluit om nooit weer haar Kersboom weg te pak nie, want elke dag gaan vir haar Kersfees wees. Ek luister na haar en voel skoon geïnspireerd!
Ek het eendag ’n beste vriendin verloor. Ek en sy was meer as ma en dogter. Ons was sielsgenote. Ek kon my nie ’n lewe sonder haar indink nie – en daarom was ek nie gereed om te groet die dag toe sy gaan nie.
Twee vriende van my het hul gerieflike lewe in Stellenbosch opgegee om die mense in Marokko van die Here te vertel – bloot ter wille van liefde. Hulle is mense wat hul lewens vir vriende en vreemdelinge sal gee. Ek weet nie of ek weer ’n paartjie soos hulle sal ontmoet nie.
So ook maar maaksel
staan ons teenoor mekaar
skepsels wat die hande uitstoot
om te weer en te omhels.
(Wilma Stockenström)
– 5 Maart 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie