Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Die vrugte wat jou lewe dra

Met die lente wat in sy vurige teenwoordigheid opgedaag het, is hierdie vrugteboord tema vandag vir my besonders gepas.

As ’n mens jou lewe soos ’n vrugteboord moes beskryf, watter tipe vrugte dra jou lewe op die oomblik? Vrugte van geldelike oorvloed? Vrugte van verhoudings wat gebuk gaan onder stresvolle omstandighede? Vrugte van goeie verhoudings? Vrugte van verhoudings wat swaarky onder selfsug en eiesinningheid?

My man verwys altyd graag na die boom wat aan sy vrugte geken word. Het ons nie maar almal ons sêgoed wat ons soms gebruik nie? Die boom wat aan sy vrugte geken word kom, sover ek kon vasstel, twee keer in die Matteus-evangelie voor. Die eerste verwysing is in hoofstuk 7 waar Jesus aan die woord is en oor vals profete waarsku. Hy sê ’n mens sal hulle aan hul optrede uitken.

“. . . net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie. ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte. ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.” (AFR 83)

En in Matteus 12 vers 33 herhaal hy homself, nadat hy waarsku dat sy luisteraars nooit vergewe sal word as hulle die Heilige Gees belaster nie.

Want: “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.”

Dit het my laat wonder, wat sê die vrugte van die Gees dan oor ons lewens. Vergelyk bietjie die lys vrugte van die Gees met die antwoorde wat jy aan jouself in die inleidingstuk gegee het.

Watter vrugte is eenvoudig “goeie praktyk” (of jy nou diep gelowig is of nie) en watter vrugte begin tekens word vir die ernstige Christen dat die vrugte van hul lewe nie voortspruit uit die teenwoordigheid of die samewerking met die Heilige Gees in hul lewens nie? “Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Volgens Galasiërs 5 vers 22 en 23 (AFR 83) is hierdie vrugte dit wat moet voortspruit uit ’n samewerkingsverhouding tussen die Christen en die Heilige Gees.

Ag jy jouself ’n Christen? Watter vrugte het by jou opgekom oor jou eie lewe? Hoe vergelyk dit met die lys hierbo? By watter een van die vele het jy vasgehaak? Myne is meestal geduld wat skandelik te kort skiet. En sodra die geduld dan daarmee heen is, is die vrede sommer saam met dit weg. En dan die goedhartigheid (wat my skielik kom aankla hier van agter af). Sommige dae is dit nederigheid wat nie sy nodige plek vol staan nie en ongelukkig, miskien meer dikwels, die gebrek aan selfbeheersing.

Die vrugte van die Gees word dikwels in een asem voorgelees, maar ja, hulle is eintlik ’n hele boek op hul eie en kan nogal vinnig ’n maaltyd word.

Ek dink wel enigiemand wat ietwat ernstig is oor hul geloof as Christen, kan gerus die “korrekte toetsantwoorde” met hul eie vergelyk en kyk wat hulle oor hulself in die proses kan leer.

Wie sien kans daarvoor om ’n poging saam met my aan te wend om die goeie boom te wees wat nie in die vuur gegooi gaan word weens die slegte vrugte wat gedra word nie?

Mag julle ’n geseënde week hê. Met liefde van Wiesie.

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer