Die vorm waarin jy van feëtjies leer
Iewers in die lewe het ek ’n etiket opgedoen wat elke taalonderwyser se hart ’n bietjie vinniger laat klop – lewenslange leser. Nou moet ek sit en kyk hoe verskeie vurige debatte, wat eintlik almal om een punt gesentreer is, onder boekwurms in die sosiale media afspeel. Die punt; wat is lees nou eintlik?
Diegene wat graag in hulle vrye tyd lees van feëtjies wat vieslike goed aanvang wat ek liewer nie hier sal herhaal nie sê hulle oë beweeg ook links na regs en hulle verbeelding maak ook die prentjie vol – dit is net dat hulle prentjie soms minder kledingstukke bevat as ander s’n, maar lees is mos tog lees, verdomp.
Die sukses van die vieslike feëtjies in uitgewerswese het later oorgeloop na ’n ander medium wat jare lank al probeer om sy plek te vind – oudioboeke. Sedert ek op hoërskool is word hierdie ‘Audible’-saak aan my verkoop en hoewel ek gedink het ’n ander soort mens as ek sou baat vind daarby, was dit nog nooit vir my nie. Ek kan nie eens myself behoorlik tot by e-boeke bring nie, nog minder iets waar die woorde nie geskryf is nie, maar iewers na die eerste feëtjies vir die ander die baan gebreek het, was daar oudioboeke oor hulle en hulle gebrek aan klere.
Steeds dring die oudio-randeiers aan dat hulle óók volwaardig lees, want hulle sien ook die prentjie – dalk in meer detail as waarmee ek sou gemaklik wees, maar ek gun elkeen sy eie smaak of wat ookal.
Tog voel ek die oudio-groep loop iets mis wat diegene wat swart op wit lees, wel kry. Die navorsing is nog ietwat in sy kinderskoene, maar daar is wel klein verskille in hoe ons breine betrek word by die aksie, maar die kenners wat slimmer as ek is, is dit eens dat hierdie verskille eintlik nie so enorm is soos dit mag klink nie. Kenners meen as jy iets fisies lees, neem jou brein die inligting beter in, kan hy dit beter onthou en kan jy dalk die feëtjies bietjie duideliker in jou verbeelding sien, maar die verskil is skaars daar.
’n Kognitiewe neurowetenskaplike gebonde aan Harvard, Nadine Gaab, sê daar is ’n deel van die brein wat hulle die ‘letter box’ noem en hierdie deel van die brein vuur glo op alle silinders of jy lees of luister – glo omdat jy in beide gevalle jou brein se vaardighede om taal te ontleed gebruik.
Nou wat van die wat beter kan sien, my kind? Ja wel, gebruik maar jou oë terwyl jy hulle het, want die voordeel van woorde lees teenoor na hulle luister, is hoofsaaklik vir jou oë, maar die navorsing steun die gevolgtrekking dat die belangrikste faktor jou aandag en genot is.
Daar is ’n argument te make dat elke formaat sy eie voor- en nadele het, maar die grootste nadeel sou wees as jy nie die letterboksie in jou brein so nou en dan ’n gimsessie gee nie.
Ek sidder om te dink aan hoe duidelik jy die feëtjies sien as jy doen wat die smaakmakers deesdae aan almal verkoop – ‘immersion reading’. As jy die woorde lees en dan nog daarna luister sien jy seker die feëman se buikspiere in die vierde dimensie en dit is een dimensie te veel vir my om iets in te sien wat ek nie eens in my verbeelding wil hê nie.
Afgesien van die sagte fluisterings van kapitalisme wat daarby betrokke is as jy die fisiese boek moet koop én dan nog vir die oudioboek moet betaal en hoeveel meer my duurste stokperdjie my uit die sak sou jaag as ek hierdie gewoonte aanleer, is daar glo beduidende voordele. Navorsing toon ernstige voordele vir fokus, nuwe woordeskat en die behoud van inligting.
Op die ou end is lees soos drink – of dit water, koeldrank of iets is waarop jou ma nie gaan trots wees nie, dit oefen dieselfde spiere, jy moet net weet dat jou uitkoms dalk gaan verskil.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie