Dieter Ian Maree
Dieter Ian Maree

Die vlieg onder die vergrootglas. . .

Sê maar net
-
Francoise Steynberg

Dieter Maree

Een of ander sadistiese neiging het nog altyd ’n ledige, maar vindingryke knaap laat glo dat die eintlike doel van ’n vergrootglas nie juis met sig te doen het nie, maar die mens se vermoë om te beheer en te domineer. Ja, ek praat van die son se strale wat op ’n klein, magtelose voorwerp konsentreer word totdat daar ’n rokie draai of iets na onraad ruik.

Sake verander nie namate ons ouer word nie en geen volwasse persoon wil graag met ’n vergrootglas en ’n paar dooie, verkoolde vlieë betrap word nie. Nee, deesdae eksperimenteer ons nie met vere en vlerkies nie, maar die eie gevoelige “Ek” en my onmiddelike begeertes.

Daar het ’n tendens in ons land van ongeveer drie miljoen mense ontwikkel om ’n vergrootglas op ons eie behoeftes, gevoelens en uitdagings te fokus terwyl ons medelandsburgers krepeer van ellende. Die agteruitgang manifesteer homself nie slegs op ’n fisiese of materiële vlak nie, maar meer kommerwekkend op ’n geestelike en emosionele vlak.

’n Koue, onverskillige houding is ’n wêreld-maatstaf wat juis op ’n subtiele manier ons verhoudinge met mekaar beïnvloed. Die vooruitgang op tegnologiese gebied verskaf ’n wyer keuse-veld met verskeie produkte wat kommunikasie tussen lande en mense kan verbeter. 

Die teendeel word egter bevorder deurdat ons ons oë en ore sluit vir die nood reg onder ons neuse – hoe meer ons van mekaar weet, hoe minder wil ons betrokke raak! 

Ai, as ons ook maar ons oë en ore kon gesluit het vir die onsigbare tog verstrengelde opinies van ons mede-bevoorregtes sou die vergrootglas dalk nie ons siele so wreed en genadeloos verskroei het nie.     

Die vergrootglas in ons lewens dui op die “oorbeklemtoning” van eie-belang in ’n land wat geensins gebrek ly aan ruimte of bronne nie. Deur die gewetenlose strewe na eie-belang kom die mens se vermoë om te manipuleer en sy self-vernietigende drang om te besit en af te baken ook sterk na vore. ’n Ongewenste, maar natuurlike gevolg van bogenoemde gedragspatroon is ook die vermetelheid om self ’n oplossing te vind vir ons probleme en om God in die proses van Sy almag te onthef.

Die genade van Bo is soos die son wat ons elke oggend getrou met sy tere ontferming groet – daar is hoop, lig en lewe sonder dat die mens ’n vinger verroer het!   

Die genade van ’n barmhartige God soos die sonskyn is vir ons almal beskore - sonder die kortsigtigheid van ’n vergrootglas wat net strek tot by die graf en nie verder nie; die sigbare en nie die geloof wat die onsigbare bewerkstellig nie. 

Wat maak ons met dit wat ons nie verdien het of geen prys voor betaal het nie. . . ?

– Gasskrywer

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer