Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Die Tsekker met die vyfslaapkamerhuis

Iréne-Mari van der Walt
Die 49 Afrikaners wat Suid-Afrika onlangs verlaat het om groener weivelde te gaan soek in Amerika se groot trek, is sedertdien “Die Groot Tsek” gedoop en in gesprek met die BBC het een van die Tsekkers gesê hy is g’n opportunis nie. As bewys hiervan laat glip hy dat hy onder meer ’n huis met vyf slaapkamers in Cyril se land moes agterlaat.

Heng, wie van ons woon deesdae in ’n vyfslaapkamerhuis? Hoe op aarde bekostig mens daardie huurkoste per maand? Dit het my laat dink aan navorsing wat ek onlangs ontdek het waar navorsers mense se reaksie op voorregte bestudeer het.

Vir hul navorsing moes twee mense ’n ronde Monopoly speel, maar een speler het voordele gekry. Dié speler het onder meer met twee dobbelstene in plaas van een gespeel en dubbel die “aanvangsalaris” aan die begin ontvang as die ander speler.

Behalwe vir ’n baie duidelike verskil in hul gedrag tydens die spel, het die bevoordeelde speler ook ná die speletjie aan navorsers gesê hulle dink hulle het gewen as gevolg van hulself – hul eie sakevernuf, slimheid of talent. Dit sê vir ons iets baie belangrik oor wat dit is om bevoorreg te wees – dat ons dit nie besef nie.

Sê ek die Tsekkers is bevoorreg en besef dit nie? Ja. Sê ek hulle is slegte mense omdat hulle hul tassies gepak en gegaan het? Nee. Dit moet erg wees om dag in en dag uit vir jou lewe te vrees. Of die bedreiging werklik is of nie, is debatteerbaar, maar hierdie mense glo in hul wese dat hul lewens in gevaar was en dit alleen is ’n verskriklike ding om te ervaar en ’n lewe wat ek nie wil lei nie.

Dis waarom Nietzsche geglo het die voorwendsel van gelykheid is “toksies” – omdat dit, volgens hom, die taal en dekmantel van geregtigheid gebruik, maar dat dit glo verg dat diegene wat bevoorreg is (en dit nie besef nie) in ’n mate benadeel moet word wat opsig self ’n onreg is. Ek verskil natuurlik effens van hom, maar daardie is nog ’n baie ingewikkelde gesprek.

Ek wonder tog of wit mense die ontdoening van dit wat apartheid meegebring het voel as ’n onreg omdat dit, soos Nietzsche sê, van ons verg om ons voordele by die deur te los en ons dus ’n trappie terug gee.

Was dit reg dat ons in die eerste plek al daardie voordele gehad het terwyl ander mense dit nie gehad het nie?

As ons praat oor om op meriete alleen te kom waar jy in die lewe is, en dieselfde van ander verwag, het ons werklik gekom tot waar ons is net op die meriete van die saak of was ons een van ’n kleiner poel wat kon kwalifiseer? As almal ongeag hul ras of klas dieselfde kwalifikasies as jy gehad het, sou jy steeds tot bo dryf?

Natuurlik moes wit mense ook werk vir wat hulle het, maar waar die kostes vir toegang te hoog was vir ander groepe om te bekostig, is jy die mees verdienstelike kandidaat? Hierdie is geensins nuwe vrae nie, maar het jy jouself dit al afgevra?

Dit gaan nie oor skuldgevoelens nie – as jy skuldig voel help jy net mooi niemand. Ek dink die lewe ná apartheid maak nie veel sin vir baie mense van verskeie rasgroepe nie omdat baie hulself nie hierdie vrae met genoeg selfbewustheid, empatie en konteks (soos dié wat die Monopoly-studie en Nietzsche se menings bied) afgevra het wat hulle plek in die samelewing nou is nie.

Ras en die verskuiwing na ’n nuwe wêreld nadat apartheid se stof gaan lê het, is ’n baie ingewikkelde gesprek waarvoor daar nie genoeg plek op hierdie blad is nie en daar is weinig duidelike antwoorde, maar as ons die kwessie meer in konteks verstaan kan beide kante van die gesprek mekaar dalk beter verstaan.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer