Die toekoms lê voor
Renè Hugo – Dit is vandag so amper die einde van die eerste maand in die jaar 2026.
Die maand Januarie is na die Romeinse god Janus vernoem. Hy is glo die god van alle beginne.
Só ook die maand waarmee elke nuwe jaar begin. Maar interessant genoeg, Janus word altyd uitgebeeld as ’n twee-gesig-persoon: Een gesig kyk terug na wat verby is en een kyk vorentoe. Nou wonder ek: Spruit alles wat nuut begin uit die dinge van die verlede?
Dit is wel waar dat die maand Januarie interessante kwaliteite en besondere ervarings bied.
– Januarie is veral ’n skoonmaak-maand. Huisvrouens was kaste uit, pak klere en beddegoed reg en gooi al die oorskietkos van Kersdag en Nuwejaarsvieringe met ’n dankbare sug in die asblik. Vir almal is daar ook ’n spesiale takie – Januarie is die “maak-jou-rekenaar- skoon”-maand.
– 1 Januarie is glo amptelik “Z-dag”. Dit is dié dag waarop mense wie se van met Z begin, eerste gehelp word, eerste in die ry staan en eerste mag praat. Op hierdie manier kan hulle ervaar hoe dit is om eerste te wees. In teenstelling met al die ander dae van die jaar waarop hulle, volgens die alfabet, laaste kom.
– Mense wat in Januarie gebore is vertoon spesiale kenmerke soos ambisie, vasbeslotenheid en veerkragtigheid. Dit weerspieël die vernuwende aard van hulle geboortemaand. (Ek wonder darem ook of hierdie ouens nie soms bietjie vies voel vir al die “tweedehandse” verjaardaggeskenke wat hulle kry nie? Geskenke waarvan hulle vriende ontslae probeer raak omdat dit Kersgeskenke is waarvan hulle nie hou nie, wat hulle nie pas nie, of dalk nie hulle kleur is nie!).
– Januarie se spesiale voël is die uil. Dit impliseer dat Januarie-verjaardagmense altyd diepdenkend, slim en stil van geaardheid is. En miskien geneigd is om tot vervelens toe “hoe-hoe?” te vra?
Ek lees dat die Romeinse god Janus (dikwels uitgebeeld met ’n sleutel in sy hand), ook die beskermheer van deure en hekke is.
As dit waar is, kan dit beteken dat Januarie vir ons almal die sleutel tot die res van die jaar is. Oppas dus en trap versigtig deur die ure en dae van hierdie maand! En onthou, soos my Ouma altyd gesê het: “Goed begonne is half gewonne.”
Maar vandag is ons amper klaar met Januarie – en wat kan daarop volg? Februarie – die wonderlike maand van liefde!!
So, saam met Janus se gesukkel met die verlede, weet ons nou om in Februarie vorentoe te kyk. Miskien is daar op ons pad ’n nuwe hek, ’n spesiale deur wat oopgemaak moet word, ’n nuwe ervaring, ’n nuwe liefde, of selfs ’n ou liefde wat ’n nuwe kleur kry.
Almal weet van Valentynsdag. Maar moenie dit holderstebolder beleef nie! Februarie, as die liefdesmaand, het ’n romantiese verloop:
– 11 Februarie: Die dag van beloftes gee en ontvang.
– 12 Februarie: Die dag van drukkies en omhelsings.
– 13 Februarie: Die dag vir soene.
– 14 Februarie: Valentynsdag!
Februarie sê ook: Leef vorentoe en moenie in die verlede vashaak nie.
Soos L.P. Hartley gesê het: “The past is a foreign country: they do things differently there.”
Die uitdaging is: Leer uit die verlede, maar dink nuut en positief vir ’n nuwe jaar, ’n nuwe toekoms.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie