Die spesie kan land red

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Daar doer uit die Mariental-kontrei kry ek ’n pluimpie in die vorm van ’n fles whiskey uit waardering vir ’n spotprent waar ’n kruising tussen ’n volstruis en ’n karakoelskaap voorgestel word.

Die draer van die fles sê vir my dat die boere in daardie deel van Namibië nou weer moed geskep het.

Die karakoelkuiken is nou wel nie ’n mooi diertjie nie, maar het baie potensiaal, sê die boer vir my. Bo en behalwe volstruisprodukte en die karakoelpelse wat die diertjies kan voortbring, sal dit ook ’n groot toeriste-aantreklikheid wees.

Nou sê hy vir my dat die groot telers van die kontrei nog verder op die volstruisskaap wil uitbrei om sommer ’n hele klomp van die land se probleme op te los.

Hulle dink nou daaraan om die karakoelvolstruis met ’n visarend ook te kruis, sodat die spesie sommer ons ministers die wêreld vol kan vlieg, sonder die astronomiese koste wat die belastingbetaler nou moet dra.

Sou jy die nuwe spesie nog met ’n skilpad ook kruis, is die behuisingsprobleem opgelos. En om nog verder te gaan, kan jy hom met ’n pou kruis, sodat hy kan spog met die land se ekonomie.

Die diertjies kan van kleinsaf geleer word om vullis te eet, water te pie en olie af te skei. Hulle kan ook geleer word om goud in die Brandberge te grawe.

Die boer sê vir my dat almal daar in die Mariental-kontrei saam stem dat die nuwe spesie in Engels (of is dit Namlish) opgelei moet word, sodat hulle die Adjunk-minister van landbou se persverklarings kan lees.

Hulle wonder nou net of minister Hampie Plichta hulle gaan dwing om lisensies vir die nuwe spesie uit te neem wat elke vyf jaar hiernieu moet word.

Die nuwe Namibiese spesie sal natuurlik by geboorte geïmmuniseer word teen malkoeisiekte, vigs, stakings, die misbruik van staatsvoertuie, misdaad, korrupsie, omgewingsbesoedeling, brandstofverhogings, watervermorsing en Chinese en buitelandse hulp.

Nou vra die draer van die fles vir my of die koerant nie ’n kompetisie kan uitskryf om ’n naam vir die nuwe spesie uit te dink nie. Hulle meen dat dit vir minister Stan Webster dalk net te moeilik sal wees om VOLSTRUISKARAKOELSKILPADPOUVISAREND te spel.

Ek dink as ’n mens nog ’n besem in die diertjies se agterent druk, kan hulle sommer die land ook skoonhou terwyl hulle die ministers rondvlieg. – 12 Junie 1996



Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer