Aldo Horn
Aldo Horn

Die skrootrobot

Aldo Horn

Die gebrom van die verbrandingsoond dreun deur die ysige skemeraand. 

’n Ysterknyper reik uit en gryp ’n stuk skroot van een van die hope – nee, eerder berge – gemors. 

Die wind ruk deur die werf, skrootberge wieg asof hulle wil omkantel, die eienaardige skreeu van metaal op metaal weergalm, die verbrandingsoond dreun voort.

Klang! ’n Ysterpyp tref ’n verlate 2l-enjin. Die masjienhart wat nooit weer sal pomp nie, lê weggesink in die klam skrootwerfgrond.

’n Tweede knyper druk die klomp metaalgemors in die klein ingeboude kompakteerder. Die rooi liggie blink helder in die vuurskakerings van die dreunende verbrandingsoond. 

Sy wieletjies wirrrr en trap vasbeslote oor skroot wat rondgestrooi is. ’n Spoor word in die growwe sand gelaat – patroonloos, egalig, die groefies deur die jare spieëlglad geskuur.

’n Dowwe groen skynsel weerkaats op ’n metaalplaat. Stadig kreun die deur van die kompakteerder oop. Die groen verdwyn.

Ysterknypers haal die perfekte skrootkubus versigtig uit – met al twee handjies soos wat ’n klein kind ’n koppie sal vashou. 

’n Ingeboude laai gly outomaties oop. Daarbinne lê vier ander eenderse skrootkblokkies snoesig verpak. Vyf, nou, ingepak langs mekaar – daar is plek vir nog een.

Kerm-kerm steun die laai weer toe met ’n eienaardige skuurgeluid wat uitstraal bo die gedreun van die verbrandingsoond. Iek! Die laai stop in sy spoor. Knypers slaan die laai, soos wat mens ’n televisie sal kap as dit nie wil werk nie.

Langsaam gly die laai weer oop. En weer toe. Iek! Twee harde slae. Oop. En weer toe. Iek! Doef. Doef. Doef! Dwa! Die laai ruk gewelddadig toe. Vier wieletjies dra die skrootrobotjie tot by die voet van die volgende skrootberg.

Die blink, grys arm reik na die rommel uit. Nog ’n bondel pype, ysterplate, blikkies en ’n ketting met ’n foto word na die kompakteerder gebring.

Die ketting wat onvas aan een vinger van die knyper hang, wieg heen en weer in ritme met die brommende verbrandingsoond. Die gebreekte punt van die ketting swaai oop. ’n Foto van ’n vrou met donkerblou oë en blonde hare staar eensamig na die robot.

Sy is so bleek soos ’n lyk in haar spierwit rok. Haar trourok. Al wat op die halfvergete foto uitstaan, is haar skarlakenrooi lippe.

“Ella, my liefling, ek sal jou nooit vergeet nie,” lui die dowwe gravering van die verlate ketting op die asgate. Die ketting gly van die knyper af. Sandkorrels skiet op soos dit geluidloos die grond tref.

Wiele beur deur die sand. Stop. Die robot is vasgeboei in ’n oomblik van huiwering.

Dan draai hulle om. Glinsterende knypers skep die ketting uit die droë grond uit. Ella hang onseker aan ’n enkele vinger. Vasberade versnel die klein wieletjies in die rigting van die immer-dreunende verbrandingsoond.

Op die rand van die gat na die vlamme van die verbrandingsoond staan die robot – piepklein, skraal, verlore voor die reus. Die blokkies word een vir een uit die skreeuende laai gehaal. Met twee “kinder”-handjies word hulle laat val. Tot in die hellevuur daaronder. Nog ’n oomblik se huiwering. . .

Ella glip van die ystervinger af. Sy verdwyn in die warm skakerings van die vlamme. Vir ewig vergete.

Die verbrandingsoond dreun voort.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer