Die resep vir ’n Lisa
Verlede naweek het ek en ons babadogtertjie, Lisa, die voorreg gehad om my niggie se troue in Suid-Afrika in die Bosveld by te woon.
Almal het gekoer oor hoe mooi en hoe oulik Lisa is en my niggie se woorde was: “Ek wil die resep hê vir ’n Lisa.”
Die grappie het teen die einde van die naweek al ’n paar draaie gemaak, soos dat ek ’n pan vir hulle as trougeskenk gegee het en my niggie weer vlymskerp opgemerk het: “Ek het nou al die pan vir die resep. . .”
Die herhalende tema het my eenvoudig laat wonder – indien ek ’n geheime bestanddeel sou moes noem wat ’n Lisa sou kon veroorsaak – wat sou dit wees?
Saam met die vraag kom die antwoord by my op dat genetika seker nie buite rekening gelaat kan word nie. Maar ek weet al genoeg van die lewe dat geen ouer werklik krediet vir hul kinders kan neem nie, dis tog mos maar ’n genetiese loteryspel.
Miskien in ’n klein mate kan hulle wel vir die opvoeding van hul kinders ’n bietjie krediet neem. Nog het hierdie gedagtegange my nie tot ’n sinvolle antwoord gebring nie.
Vroeëre jare het ek altyd so half gefrons as mense vir my vertel dat hulle vir die Here vir dit of dat gevra het. Ek het net altyd gedink, regtig? Dink jy dat dit realisties is dat jy hoofmeisie of leerlingraad gaan word net omdat jy daarvoor in gebed gevra het?
Ek het geglo die Here verhoor gebede, maar ook geweet hy doen dit nie alleen omdat ons hom daarvoor vra nie. Dit het alles te doen met Sy wil en Sy groter plan. My ma sou sê hy gee nie wat ons vra nie, hy gee wat ons nodig het.
Tydens die verlies van ons eerste dogter het ons die vers in Fillipense teëgekom oor die Vrede van God wat alle verstand te bowe gaan – in hoofstuk vier vers 7. Maar die vers daarvoor is vers 6 wat lui: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (AFR 83)
Alles beteken in elke situasie, die goeie of die slegte. In daardie leemte wat ons ervaar het ná die verlies en voor Lisa se geboorte, het ek seker vir die eerste keer in my lewe regtig die Here vir nog ’n dogter gesmeek. Nie dat sy oulik moet wees nie, net vir nog ’n dogter. Die oulik was bloot Sy bonus op my gebed.
Dus kan ek met alle eerlikheid nie vir my niggie ’n resep gee nie, soos sy ook nie regtig een van my verwag het nie. Maar ek kan met haar ’n geheime bestanddeel vir oulike kinders deel – dat jy vir hulle moet vra deur gebed en smeking en met danksegging van die Here, en dalk as jy hulle nodig het, sal Hy hulle vir jou gee.
Vandag sê ons ook dankie aan die Here dat Sy plan vir ons nog ’n dogter behels het en dat hy spesifiek met ons as gesin in daardie opsig genade gehad het.
Want ek glo steeds dat dit nie net daaroor gaan dat Hy gee omdat jy vra nie. Hy gee wel óók omdat jy vra, maar dit gaan daaroor dat ons moet vertrou in Sy groter almag en wysheid vir die planne wat Hy spesifiek vir elkeen van ons het.
Met liefde, van Wiesie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie