Die prys van rus
Ek lê party aande wakker en wonder oor dinge waaroor ’n mens nie eintlik so vroeg wil oor dink nie.
Dinge soos die dag wanneer ek nie meer hier is nie. Nie omdat ek bang is vir die dood self nie, maar omdat ek dink aan wat dit my familie gaan kos om my net ordentlik te begrawe. Ja, jy het reg gehoor. Selfs om dood te wees, het deesdae ’n prysetiket.
’n Yslike N$4 500 vir ’n stukkie grond waar ek uiteindelik moet lê. As jy mooi daaroor dink, is dit amper snaaks of dalk eerder tragies snaaks. Terwyl ek geleef het, kon niemand sommer net vir my ’n stukkie grond gee nie. Jy moet aansoek doen, wag, dokumente invul en soms nog jare lank hoop dat iets beskikbaar raak. Maar sodra jy sterf, is daar skielik ’n plekkie vir jou, natuurlik teen ’n koste.
Dit voel amper of ’n mens as jy dood is meer “grondregte” kry as toe jy nog gelewe het. En dan maak hulle dit nog halfprys as dit ’n kind is. Halfprys! Asof dit ’n spesiale aanbieding by ’n winkel is. Dis mos hartseer as jy regtig daaroor dink. Dis nie iets waaroor ’n mens eintlik wil grappies maak nie, maar soms is ’n bietjie humor die enigste manier om die absurditeit van die werklikheid te verwerk.
Die ironie van alles is dat mense altyd sê: “Rus in vrede.” Maar eers moet jy vir daardie vrede betaal. Dis amper soos ’n laaste rekening wat nog vereffen moet word voordat jy werklik kan rus.
Dit laat ’n mens wonder of daar dalk ’n kwitansie saam met die grafsteen kom. Ek begin nou al wonder of ek nie maar solank vir my graf moet begin spaar nie. ’n Mens spaar mos vir ’n huis, vir ’n kar en vir aftrede, nou lyk dit of jy ook vir jou “laaste erfie” moet begin spaar!
En as ’n mens nou regtig sarkasties wil raak, kan jy seker vra of daar dalk ’n afslagkaart vir gereelde kliënte is, maar ongelukkig werk dit nie so nie. Niemand beplan mos om gereeld van daardie diens gebruik te maak nie.
Die werklikheid bly egter hartseer. Families wat reeds deur rou gaan, moet ook nog bekommerd wees oor die koste van iets wat eintlik ’n eenvoudige mensereg behoort te wees – om met waardigheid begrawe te word.
En dan wonder ek maar stilweg: As die aarde tog almal se eindbestemming is, hoekom moet dit so duur wees om net weer deel daarvan te word?
Die manier waarop die pryse styg, gaan die munisipaliteit later seker adverteer: “Spesiale aanbieding – koop een graf, kry een gratis!” Maar ongelukkig is dit nie ’n spesiale aanbieding wat jy regtig wil gebruik nie.
Want uiteindelik bly die waarheid maar dieselfde: Selfs terwyl jy dood is, betaal jy vir ’n stukkie grond wat jy nooit kon besit toe jy nog geleef het nie.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie