Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

Die Ozempic-golf

Marlise Izaaks

Ry jy ook die Ozempic-golf, of doen jy dit die outydse manier? Hulle sê, “work smarter, not harder”. 

Ek ken ’n hele paar mense wat intussen mensies geword het. Wat nou net sexy is, maar paar maande gelede sexy en nog ’n rolletjie sexy was. Ek speel sommer net met my woorde, niks snaaks bedoel nie. Ek het ook my bedenkinge gehad en onkunde is nie jou vriend nie. 

My huisdokter beveel dit graag aan om die ongewenste vetjies en sentimeters af te skud. My grootste bekommernis was die probleem met die uitstel van toilet toe gaan. Uhm, kan mens se liggaam so lank vashou aan dit wat moet uit? 

My apteker-vriend het ook raad vir dié een; ’n appel elke dag en siedaar, daar sien die gemagshuisie jou sommer meer gereeld. Sommige mense kla weer van naarheid en ander maagkwale. Dis waarom jy nie hierdie reis alleen kan aanpak nie, jy moet eers mediese raad inwin, want dit is dalk glad nie vir jou bedoel nie.

Nietemin, die Ozempic- en susterspuite is immers deur die VSA se voedsel- en medisyne-owerheid, ofte wel FDA, goedgekeur. Die resultate is nogal merkwaardig, want wanneer jy ’n sekere ouderdom bereik en jou doenlysie net te lank is, dan is daar nie tyd vir maaltydvoorbereiding nie en sommige bestanddele is net te vreemd vir die maag. 

Ek hou daarvan om die storie agter die storie te kry en vra my huisdokter uit oor waarom hierdie metode so doeltreffend is? 

Sy skets dit vir my so, dat ons mos nie beheer het oor die gene wat ons van ons ouma- en oupagrootjie geërf het nie en nou is daar ’n hele paar dinge wat ons eetgewoontes beïnvloed. 

Navorsing het ook getoon dat vetsug en oortollige gewig baie meer kompleks is as ’n gebrek aan wilskrag. Faktore soos genetika, hormone, metabolisme, mediese toestande, medikasie en ander, beïnvloed ’n persoon se vermoë om gewig te verloor of daaraan vas te hou. En nie almal van ons is ontwerp vir intensiewe oefening nie, veral nie wanneer jy ’n sekere ouderdomsgroep bereik nie. 

Ja, semaglutied en haar susterspuite, is eintlik ontwikkel om mense met tipe 2-diabetes te behandel, maar boots dermhormone goed na, wat jou baie minder laat eet, want jy voel vir ’n langer tydperk versadig.

Moenie te gou opgewonde raak nie, want jy sal beslis ’n fisiese aktiwiteit in jou skedule moet begin inpas, want die stywe vetjies is binnekort meer vry en los. So, hoewel jy vinniger gewig afskud, sal jy steeds bietjie oefening moet inwerk om jou spiere te behou. 

Sien dit so, Ozempic is nie ’n wonderkuur nie, dis slegs gereedskap wat help om jou gewigsdoel meer doeltreffend te bereik. Dit kan definitief jou eie pogings vir beter resultate aanvul, maar jou gesonde gewoontes is steeds belangrik, so kweek dit en kweek dit nou.

Hierdie medikasie is ook ’n behoorlike bedrag, so oorweeg maar jou opsies en bereken of jy jou daaglikse sjokolade en koeldrank aan die einde van die maand kan prysgee. Jy sal verbaas wees hoeveel jy kan spaar wanneer jy niks meer aan allerhande soethappies weggee nie.

Nou ja toe, hierdie is net my mening nadat ek my navorsing gedoen het. Doen nou joune en laat weet gerus wat jou plan is. Ek volg nou myne en voel al heelwat beter, of moet ek sê ligter.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer